Dié rugby- en krieketbande was altyd heg

(Foto: Rhodesia Was Super)

ʼn Mens het nog altyd ʼn sagte plekkie vir die destydse Rhodesiese en Zimbabwiese rugby- en krieketspanne gehad.

Dis immers Suid-Afrika se buurland, waar drie Springbokkapteins (Des van Jaarsveldt, Gary Teichmann en Bob Skinstad) gebore is en wat ʼn rits Springbokke soos Adrian Garvey, Beast Mtawarira, Brian Mujati, Andy MacDonald, Ronnie Hill, Ben-Piet van Zyl, Chris Rogers, David Smith, Ray Mordt, Ian Robertson en Tonderai Chavhanga opgelewer het.

Ryk van Schoor, wat jare lank Tjol Lategan se sentermaat was, het destyds na Rhodesië geëmigreer en Tom van Vollenhoven, Bubbles Koch, Piet Greyling, Salty du Randt, Jack van der Schyff en Doug Holton, wat ook almal Springbokke geword het, het ʼn paar jaar vir Rhodesië gespeel.

Daar was ʼn paar Junior Springbokke soos Gordon Cunningham, Alan Poole, Francois Roux, Lance Nel, Mike Rest en Rob Stewart en Gaselle soos Ian Bond, Tienie Martin, Dick Coleshaw en Danny Svoboda.

Rhodesië het tot in 1980 in die Curriebekerreeks gespeel en hoewel hulle nooit die beker kon wen nie, was hulle meestal baie mededingend.
Dink maar terug aan Iain Buchanan, Danny Delport, Terry Bowes, Kevin Schlachter, Eric Barrett, Frank Inocco, Des Christian en Brian Murphy. Wanneer ʼn Suid-Afrikaanse span in die destydse Salisbury of in Bulawayo gespeel, het hy maar geweet dat dit nag sou wees.

Dan het twee All Black-vuurvreters, Alan Sutherland (hy was ook Rhodesië se kaptein) en Kevin Eveleigh, vir Suid-Afrika se buurland gespeel.

Op die krieketveld het verskeie Rhodesiërs, soos David en Tony Pithey, Colin Bland, Jackie du Preez, Denis Tomlinson, Joe Partridge, Godfrey (Goofy) Lawrence en Chris Duckworth vir Suid-Afrika gespeel.

Mike Procter, Peter Carlstein en Paul Winslow, wat almal vir Suid-Afrika gespeel het, het ook jare lank in Rhodesië gespeel.

In 1970 is John Traicois, wat in Egipte gebore is, maar in Rhodesië grootgeword en gespeel het, vir Suid-Afrika gekies.

Net soos die Rhodesiese rugbyspanne, kon die krieketspanne ook nooit die Curriebeker wen nie, hoewel hulle baie waarde tot aan die einde van die 1979/’80-seisoen toegevoeg het.

Dis hoekom daar met groot nostalgie na aanstaande week se vierdaagse pienkbalkriekettoets teen Zimbabwe in Port Elizabeth uitgesien word.

Ja, Zimbabwe sal soos lammers na die slagpale in hul eerste toets teen Suid-Afrika gelei word, maar dit sal baie goeie herinneringe terugroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.