Die rugbygene sit dik in Adam Coleman se bloed

Adam Coleman. Foto: Rugby Australia)

Toe die jong boontjierank Adam Coleman verlede jaar sy toetsbuiging vir die Wallabies gemaak het, was daar in sekere kringe bedenkinge of hy fisiek genoeg sou wees vir die stampe en stote van toetsrugby.

Volgens die gewese Wallaby-afrigter Bob Dwyer, laat Coleman (2,03 m en 116 kg) hom aan ʼn jong John Eales terugdink. Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt het die naam van ʼn jong Victor Matfield opgeduik: atleties, vaardig en reeds taai.

Wanneer die Wallabies Saterdag in Sydney in die Rugbykampioenskap en Bledisloe-toets teen die All Blacks speel, sal dit Coleman se 13de toets wees.

Verlede jaar in twee toetse teen die Bokke, toe hy teen Lood de Jager en Pieter-Steph du Toit as sy regstreekse teenstanders te staan gekom het, het hy nie ʼn duim gewyk nie.

Hy het binne ʼn jaar tot die senior staatsman in die Wallaby-lynstaan gegroei. Hy is die een wat besluit waar die bal gegooi moet word, en wat daarmee gedoen moet word.

Waar kom Coleman se vaardighede vandaan?

Moenie jou deur sy van laat mislei nie, want Coleman is die seun van Pau’lu Afeaki, gewese kaptein van Tonga se rugbyspan.

Pau’u Afeaki se broerskind, Inoke Afeakai, was ook ’n Tongaanse kaptein en twee van Coleman se neefs, Rodney Blake (Wallabies) en Ben Afeaki (All Blacks) het ook toetsrugby gespeel.

Pau’u Afeaki is oorlede toe Adam Coleman net 12 jaar oud was en sy ma, Jenifer Coleman, moes hom toe as enkelouer onder moeilike toestande grootmaak.

Coleman het nooit sy bande met Tonga verbreek nie, en hy besoek gereeld sy tante in Auckland om meer oor sy Tongaanse agtergrond uit te vind, waar sy pa gebore is, en hoe groot die Afeaki-gesin werklik is.

Nou weet ons hoekom Coleman die vuur in die enjinkamer kan stook, nou weet ons hoekom hy nie die ander wang hoef te draai nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant!

Die Wallabies gaan ékstra swaar leef teen die All Blacks in die komende Bledisloe-reeks, want die gedeelde toetsreeks met die Britse Leeus moet gewreek word.
Dis nogal ‘n nadeel om elke jaar die Rugbykampioenskap met twee verlore agter die blad af te skop. Veel erger as ‘n rooi trui! :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.