Die rugbytoer wat baard gekry het

Die Nieu-Seelandse inheemse toerspan van 1888 tot 1889. (Foto: NZ Rugby Museum)

Dis weer hierdie tyd van die jaar, wanneer die Suid-Afrikaanse rugbystories opdroog omdat dit buite die seisoen val, hoewel die Cheetahs en Southern Kings darem vanjaar in die Pro 14-reeks speel en die eindstryd van die reeks eers oor 163 dae plaasvind.

Dit laat ʼn mens onwillekeurig aan die verlede terugdink toe die Springbokke in die Europese wintermaande lang toere deur die Noordelike Halfrond onderneem het.

Die laaste lang toer, en die heel mistroostigste nog, het in 1969/’70 plaasgevind toe die Springbokke 26 wedstryde op toer gespeel het, net 16 keer aan die wenkant was en nie een van die vier toetse kon wen nie. Hulle is deur Skotland (6-3) en Engeland (11-8) geklop en het teen Ierland (8-8) en Wallis (6-6) gelykop gespeel.

Die Springbokke het die eerste wedstryd teen Oxford verloor, só ook die derde teen Gwent, die vyfde teen Newport en die agtste wedstryd teen Ulster het met 0-0 gelykop geëindig.

Vergelyk dit met die toerspan van 1951/’51 wat net een keer in 31 wedstryde (deur London Counties met 11-9) geklop is. Die span van 1960/’61 het ook net een keer verloor (teen die Barbarians met 0-6) hoewel hulle twee keer gelykop gespeel het.

Die toerspanne van 1906/’07, 1912/’13 en 1931/’32 was ewe suksesvol – die dae toe Springbokrugby saam met die All Blacks die groot wêreldkrag in rugby was.

Die langste rugbytoer nog?

In 1888 het die sogenaamde Nieu-Seelandse inheemse span (Maori) deur Europa getoer en meer as 100 wedstryde gespeel.

Die toer het tussen Junie 1888 en Augustus 1889 plaasgevind en die span het voor die toer eers nege opwarmwedstryde in Junie en Julie in Nieu-Seeland gespeel. Die span het op 1 Augustus 1888 uit Dunedin se hawe per boot vertrek en eers in Australië aangedoen waar hulle twee keer in Melbourne in aksie was. Dit het ses weke geduur om in Engeland, glo ook deur die Suez-kanaal, uit te kom.

Hul eerste wedstryd was op 3 Oktober 1888 teen Surrey.

Hulle het altesaam 74 wedstryde gespeel waarvan hulle 49 keer aan die wenkant was, 20 keer verloor het en vyf keer gelykop gespeel het.

Toe is hulle weer Australië toe waar hulle nog 14 wedstryde asook agt keer teen Australiese voetbalspanne (Aussie Rules) gespeel het.

Hulle het op 5 Augustus 1889 in Nieu-Seeland aangekom en was dus ʼn jaar en vier dae van die huis af.

Om alles te kroon, moes hulle nog agt wedstryde in Nieu-Seeland speel.

Hul algehele vertoningslys? Altesaam 107 wedstryde gespeel, 78 keer aan die wenkant, 23 keer verloor en sewe wedstryde het gelykop geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JC ·

Is rugby ‘n onteenseglike en onvoorwaardelike deel van Afrikanerwees en Afrikanerkultuur?

Dit is sterk te betwyfel.

Watter “sport” speel ons dan, vra jy? Wel, daar is baie; insluitende baie meer opbouende, indiwidualisties- gerigte sporte, waar kinders na wellus en na hul hoogste potensiaal kan presteer, sonder inmenging van ignoramusse.

Dit is hoogtyd om DIE “dooie gewig” van ons skouers af te gooi, en aan te beweeg na meer sinvolle en behoudende dinge, soos ons soete tongval.

Dat “rugby” vroeer jare ‘n belangrike rol in ons ontwikkeling en karaktervorming as volk gespeel het- kan nie ontken word nie – maar nou is dit helaas ‘n blote las en onnodigheid, en ‘n beuselagtige aandag-afleier vanaf die belangriker aspekte van die lewe, wat duidelik as politieke speelbal gebruik word, en waarin mens geen behae in behoort te he nie.

Reti ·

Stem heelhartig saam. Daar is lewe na rugby. Die regering het in rugby ‘n stok gekry om mense van wie hy nie hou nie te slaan. Wat maak kinders as iemand heeltyd baklei om sy speelding af te vat? Los hom en kry nuw (lekkerder) speelding. Hou dop, hulle gaan nuwe speelding ook probeer afvat.

Koos1 ·

Ek het nie geweet dat AC in 1969/70 die bokke afgerig het nie! Skuus, kon nie hy gewees het nie, op daai toer het hulle darem iets gewen, al was die nie die toetse nie!

henk ·

meer as ‘n 100 westryde in ‘n jaar VER weg van die huis en hulle wen amper 80% van hulle wedstryde!!? En die Bokke en coetzee kry in twee jaar skaars 40%.?

Nico K ·

Interessant om te sien dat die 1969 Bokke swakker gedoen het as AC se span. Ek raai die publiek het toe ook die afrigter se kop geëis.

Daniël ·

Nico K – Die skrywer van die berig het ‘n baie belangrike feit oor die 1969-70 Springboktoer verswyg. Dit was die “betogertoer” waar die Springbokke blootgestel was aan bomdreigemente, gebreekte glasstukke op die veld, gillende gehuurde hippies wat deurnag voor hul hotelle gestaan en rumoer het en baie ander derglike dinge wat geen ander span voorheen moes verduur het nie. Daar was steeds nie verloortellings soos 3-38 of 0-57 nie. Daardie betrokke Springbokspan het ‘n heldeontvangs gehad op Jan Smuts lughawe met hul terugkeer. Ek dink dit stel jou kommentaar in perspektief…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.