Dié SA A-span pak Britse en Ierse Leeus  

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Die SA A-span wat Woensdag die Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion sal pak, is bekend gemaak.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het 18 Rugbywêreldbeker-wenners vir die Suid-Afrikaanse A-span nadergetrek. Die span sal deur Lukhanyo Am aangevoer word.

Die span sluit onder meer vyf spelers in wat net meer as twee weke gelede in die Springbokke se toets teen Georgië gespeel het, naamlik Willie le Roux, Pieter-Steph du Toit, Franco Mostert, Eben Etzebeth en Trevor Nyakane.

Morne Steyn sal ook in aksie wees terwyl Joseph Dweba (haker) en Nicolaas Janse van Rensburg (slot) ook by die span van 25 spelers ingesluit is.

“Ons is verheug dat ons ʼn kwaliteitspan met ʼn aantal ervare spelers kan aankondig ondanks die uitdagings van die afgelope week,” het Nienaber gesê.

“Ons het dalk ons kaptein Siya (Kolisi) verloor, maar daar is ʼn goeie leierskern in hierdie groep, insluitend Morné, Willie, Eben, Trevor en Steven (Kitshoff), wie se ervaring van onskatbare waarde sal wees in ʼn wedstryd teen ʼn kwaliteit Britse en Ierse Leeus-span.”

Faf de Klerk in aksie vir die Sale Sharks. (Foto: XAVIER LEOTY/AFP)

Ander Wêreldbeker-helde wat ook by die span ingesluit is, is Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Sbu Nkosi en Damian de Allende.

Jasper Wiese, wat sy debuut teen Georgië gemaak het, sluit by Marco van Staden en Du Toit aan in die lostrio.

Nienaber is steeds in afsondering nadat hy positief vir Covid-19 getoets het en het die leisels aan Rassie Erasmus, direkteur van rugby, oorgegee. Die Springbokke het Sondag in die Moederstad aangekom. Die spelers en bestuurslede wat nog in afsondering is, sal Woensdag by die res van die span aansluit.

Die SA A-span vir Woensdag se kragmeting teen die Britse en Ierse Leeus:

15 – Willie le Roux

14 – Cheslin Kolbe

13 – Lukhanyo Am (kaptein)

12 – Damian de Allende

11 – Sbu Nkosi

10 – Morné Steyn

9 – Faf de Klerk

8 – Jasper Wiese

7 – Pieter-Steph du Toit

6 – Marco van Staden

5 – Franco Mostert

4 – Eben Etzebeth

3 – Trevor Nyakane

2 – Joseph Dweba

1 – Steven Kitshoff

Plaasvervangers:

16 – Malcolm Marx

17 – Coenie Oosthuizen

18 – Vincent Koch

19 – Nicolaas Janse van Rensburg

20 – Rynhardt Elstadt

21 – Herschel Jantjies

22 – Jesse Kriel

23 – Damian Willemse

24 – Kwagga Smith

25 – Elton Jantjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Is dit ‘n 4de toets, dis dan omtrent die toetsspan? Sterk span, gaan ‘n goeie aanduiding wees wat ons kan verwag in die toetse. Kon maar van die Bokke vrygestel het vir hul provinsies ook. Slim van Rassie om die ouens te kies, gaan hulle broodnodige wedstrydoefening as ‘n eenheid gee teen sterk opposisie. Soos ek Rassie ken, gaan hy nie nie al sy kaarte speel nie. Sal waarskynlik almal soveel speelkans as moontlik gee. Plaasvervangers sal waarskynlik gouer op kom as gedurende ‘n toets.

SjN ·

Ek dink die verlies van die kaptein is n pluspunt vir die span.

N ·

Alhoewel hierdie n goeie span is, en mens nooit vir Rassie moet onderskat nie sou ek graag spelers soos Evan Roos, Elrigh Louw, Dylan Richardson, Simelane, Jaden Hendrikse, Werner Kok ens in n jong bok A span wou sien speel

B-Man ·

Stem saam oor Roos en Kok, maar jy is duidelik ‘n VeePee.

piet ·

Ongelukkig (of gelukkig) het omstandighede dit genoodsaak dat die toetsspelers meer wedstrydoefening moet kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.