Die Saterdag toe Suidoos-Transvaal die WP laat bloos het

Argieffoto (Foto: Vlad Vasnetsov/Pixabay)

Daar was al ʼn hele paar skokke en groot oorwinnings in rugby, dit gebeur jaarliks en is deel van sport.

Wat van toe die Bokke Skotland met 51-0 en 68-10 geklop het, toe die Iere met 33-0 afgeransel is, Italië met 101-0 gemesmeraais is, Wallis met 96-13 vermorsel is, die All Blacks met 17-0 geklop is en die Wallabies met 61-22 omgedop is?

Daar was ook van die swartste dae in Springbok-geskiedenis toe die All Blacks die Bokke met 57-0 gerol het, die Wallabies die Bokke met 49-0 getroef het en Engeland die Bokke met 53-3 oorrompel het.

Op provinsiale vlak het van die sogenaamde kleintjies die grotes so wan en dan omgerol, soos Oos- en Wes-Transvaal vir Noord-Transvaal en toe Griekwas die Curriebeker in 1970 gewen het toe hulle Noord-Transvaal met 11-9 in die eindstryd in Kimberley geklop het.

Maar draai die horlosie terug na 4 Junie 1983 na die Johann van Riebeeck-stadion in Witbank, toe Suidoos-Transvaal die Westelike Provinsie met 24-19 in die Lionbeker-reeks geklop het. Dit sal steeds in die annale van Suidoos-Transvaal en later die Pumas as hul roemrykste oorwinning bekend staan.

Dit was geen hierjy WP-span nie, daar was allermins sewe Springbokke in die pak (ook onder meer Nick Mallett) met Carel en Michael Plessis, Divan Serfontein en Colin Beck agterlangs.

Die WP het juis in 1982 die Curriebeker gewen toe hy Noord-Transvaal met 24-9 in die eindstryd geklop het. In 1983 het die Streeptruie die Curriebeker behou toe hy Noord-Transvaal met 9-3 in die eindstryd op Loftus Versfeld geklop het.

Onthou ook gerus dat die WP die Curriebeker vyf jaar in ʼn ry tussen 1982 en 1986 gewen het.

Die onbesonge Suidoos-Transvaal het geen Springbok in sy span gehad nie, maar as ʼn span saamgestaan en dit reggekry.

ʼn Mens moet veral vermelding van Kallie Grobler, Harry Muller, Hendry van Tonder, Richard Cooke en Jorrie Jordaan maak. Hulle het die WP voos geduik, daar was op ʼn kol net 13 fikse WP-spelers op die veld met Rob Louw wat in verskeie posisies agterlangs gaan uithelp het. Hoe langer die wedstryd geduur het, hoe groter het die treurmare geword en het die vreugdevure in Witbank en omliggende dorpe dae lank gebrand.

Dis hoe dis spanne dié dag gelyk het:  Suidoos-Transvaal: Harry Muller, Frank Sullivan, Wimpie van der Westhuizen, Steve Meyer, Kallie Grobler, Gert la Grange, Klasie la Grange, Jorrie Jordaan, Hendry van Tonder, Terence Moll, Bertus van Eeden, Vleis van Zyl, Jan Loubser, Richard Cooke (kaptein), Nan Broekman.

WP: Colin Beck, Frikkie Ebersohn, Wilfred Cupido, Chris Smit, Carel du Plessis, Michael du Plessis, Divan Serfontein (kaptein), Nic Mallett, Theuns Stofberg, Rob Louw, Hennie Bekker, André Markgraaff, Attie Strauss, Shaun Povey, Henning van Aswegen.

Punte: Suidoos-Transvaal 24: Drieë: Frank Sullivan, Steve Meyer. Doelskoppe: Harry Muller (2). Strafdoele: Muller (3). Skepdoel: Gert la Grange.

WP 19: Drieë: Hennie Bekker, Chris Smit. Doelskop: Colin Beck. Strafdoele: Beck (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Ek mis krag teen krag toe die Currie Cup nie soe afgewater was nie. Jy het geweet as die WP teen Noord Transvaal speel was dat dit die beste 15 in die Streeptrui, en die beste 15 in die lig blou trui. Mis ook die drie maande besoek se nou van die All Blacks, waar daar tussen die 4 toetse van die provinsiale spanne teen hulle gespeel het. Die midweek game. Dit was die dae!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.