Die Sharks baljaar op eie bodem

sharks-logoDie manier waarop die Sharks Saterdagaand die Waratahs op Kingspark oorrompel het, het ’n duidelike boodskap aan ander besoekende spanne gestuur dat ’n besoek aan Durban vanjaar nie ’n maklike uitstappie gaan wees nie.

Hoewel die Sharks slegs ses punte in die tweede helfte kon aanteken is die grondslag vir hulle oorwinning met 37-14 reeds in die eerste helfte gelê.

Met die flanke Philip van der Walt en Jean-Luc du Preez aan die spits, het die Sharks die besoekers voorlangs oorheers en sodoende aan die agterspelers die geleentheid gegee om gapings in die besoekers se verdediging te kry. En gapings was daar.

Die kere wat die Waratahs wou aanval, het hulle hul boonop in klipharde verdediging van die Durbaniete vasgeloop. Dit het balle laat verlore gaan wat deur Sharks, soos Kobus van Wyk kort voor rustyd, opgepik is en hom kort voor rustyd laat druk het.

Nie eens die verlies van hulle kaptein en losskakel Patrick Lambie na slegs vyf minute met ’n besering kon die Sharks van ’n oorwinning beroof nie.

Om die waarheid te sê, Curwin Bosch, wat sy plek ingeneem het, het ’n vyfstervertoning gelewer deur 27 punte, wat ’n drie ingesluit het, by te dra.

Toegegee die Waratahs het na rustyd met hernude ywer op die veld gedraf met die buitesenter Israel Folau en die losskakel Bruce Hegarty wat kort-kort probeer het om die tuisspan se verdediging te uitoorlê.

Die Sharks se verdediging was egter te goed georganiseer, met veral die groot binnesenter Andre Esterhuizen wat die besoekers voos geduik het.

Maar alle eer aan die Waratahs. Hulle het nooit moed opgegee nie en tot die einde toe veggees getoon.

Puntemakers –

Sharks (31) 37: Drieë: Tera Mtembu, Curwin Bosch, Kobus van Wyk. Doelskoppe: Bosch 2. Strafdoele: Bosch 6.
Waratahs (7) 14: Drieë: Israel Folau 2. Doelskoppe: Reece Robinson 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.