Die skoen is nou aan die ander voet

Dit gebeur nie aldag dat Suid-Afrikaanse spanne voordeel trek uit die loting van die Superrugbyreeks nie.

Dis hoekom die Lions en Stormers moet skep terwyl dit reën, want dit sal nie gou weer gebeur nie.

Die Nieu-Seelanders sit met ʼn groot kopseer en dit gaan wyse manne verg om dit te verlig.

Die Lions en Stormers is reeds verseker van ʼn tuiswedstryd in die kwarteindronde. Hulle kan rustig agteroor sit en kyk wie hul teenstanders gaan wees en hoef nie planne te maak om oorsee te vlieg nie.

Hulle hoef ook nie hul toetsspelers ʼn ruskans te gee nie, want dis reeds gedoen. Die reeks teen die Franse is reeds op 24 Junie afgehandel en boonop het die Lions ʼn loslootjie gehad nadat hulle die Sunwolves op Ellispark vermorsel het.

Ja, die Sharks is nie heeltemal so gelukkig nie en hulle sal eers Saterdag weet of hulle die lang tog na Christchurch in Nieu-Seeland vir ʼn kwarteindstryd teen die Crusaders moet aandurf en of hulle ʼn kort vlug na die OR Tambo-lughawe moet haal om ʼn tweede keer in twee naweke teen die Lions te speel.

Maar die Nieu-Seelandse spanne sit met ʼn taai tameletjie.

Die derde toets tussen die All Blacks en Britse en Ierse Leeus is eers verlede Saterdag afgehandel en die toetsspelers kort dringend ʼn ruskans. Maar wanneer?

Die Hurricanes en Crusaders pak mekaar Saterdag in Wellington om te bepaal of die Crusaders bo-aan die puntelys sal eindig.

As die Crusaders hul moeë All Blacks soos Israel Dagg, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody, Sam Whitelock en Kieran Read laat rus, kan hulle maklik vasval. Maar sal hulle dan in die kwarteindronde, halfeind- of eindstryd gerus word?

Wen die Hurricanes, speel hulle teen die Brumbies in die kwarteindronde en hoef hulle nie Kaapstad toe te reis nie. Maar wanneer gaan Beauden Barrett sy ruskans kry?

Hoe dit ook al sy, jare lank het Suid-Afrikaanse spanne aan die agterspeen gesuig, jare lank moes hulle vier wedstryde in ʼn ry in Nieu-Seeland en Australië speel (toe die Waratahs, Brumbies en Reds nog kon rugby speel).

Nou is die skoen aan die ander voet – en dit pas boonop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Russl ·

Die leeus en stormers kan nie rustig agteroor sit nie.

Die Leeus sal wag vir die Crusaders-Hurricanes wedstryd. Indien die Crusaders verloor, weet die Leeus hulle moet die Sharks wen om bo-aan die punteleer te eindig en te verseker dat die moontlike halfeind en finaal op Ellis Park is. Verloor die Hurricanes, dan die Leeus agteroor sit.

Die Stormers sal 2 wedstryde dophou. Indien die Sharks verloor kan die Stormers hulle verbyvat vir die halfeind se puntestand, dis nou indien die Sharks en Stormers hulle kwarteind wen en dan sal die Stormers die halfeind tuis kan hou.

Snaakse dinge het al in rugby gebeur en indien die Stormers Saterdag wen het hulle nog ‘n die finaal op Nuweland te hou. Skraal kans en baie wedstryde moet reg uitwerk vir dit om te gebeur.

‘N mens moet bietjie verder kyk as net die volgende wedstryd, daar is baie op die spel

vrikie ·

Ek is bevrees as die Lions nie heelbo eindig nie en dalk oorsee moet gaan vir die eindstryd gaan dit baie moeilik wees nes verlede jaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.