Die skrum bly maar belangrik

Robert du Preez bespring vir Cyle Brink in Saterdag se stryd op Ellispark. (Foto: GB Jordaan)

Niks het klaarblyklik verander nie sedert Philip Nel se span in 1937 in Nieu-Seeland voor die eerste toets ʼn telegram van Oubaas Mark gekry het wat hulle herinner het: skrum, skrum, skrum.

Dit het die Lions Saterdag in hulle wegspringwedstryd in vanjaar se Superreeks teen die Sharks ook toegepas – en dit is moontlik net dáár waar die wedstryd op Ellispark gewen is. Die tuisspan het met 26-19 gewen.

Die Lions se vaskop Ruan Dreyer, wat oor sy skrumwerk by die Bokke verguis is, het saam met Jacques van Rooyen en Malcolm Marx die Sharks in die skrums verniel. En hulle moet vir die Sharks se Robert du Preez-hulle daarvoor dankie sê wat vir Thomas du Toit posisie uit op vaskop ingespan het.

Die Sharks se diepte wat op die bank waarneembaar was, het duidelik nie die vaskopposisie waar Coenie Oosthuizen beseer is, ingesluit nie.

Du Toit is in die eerste skrum deur Van Rooyen gestoomroller en die Sharks het daarna deur die wedstryd in hierdie faset swaar geleef.

Die Sharks het egter in die lynstane die ontwrigting van die Lions uitgebuit toe Marvin Orie op kort kennisgewing vir Andries Ferreira moes vervang, want die Lions het in  hierdie afdeling teen die amperse Bokslot Ruan Botha-hulle tweede viool gespeel.

Die Lions het, soos van hulle verwag word, lekker gehardloop en die aanvanklike druk van die Sharks weerstaan om uiteindelik met vier drieë teen drie die wedstryd te wen, ondanks middelmatige skopwerk deur Elton Jantjies.

Maar die Sharks moenie sommer afgeskryf word nie. Hulle het ʼn bonuspunt in ʼn wegwedstryd gekry, heelwat gedoen om te wys dat daar, ondanks die eerste wedstryd se spinnerakke, iets aan’ t gebeur in Durban is en kan vanjaar nog deeglik stem dik maak. Daar lê immers nog 15 wedstryde voor.

Raar maar waar: die twee spanne het nie ʼn enkele strafdoel in die wedstryd oorgeskop nie. En met albei spanne wat die bal lug gegee het, is ses van die sewe drieë deur die agterspelers gedruk.

Puntemakers –

Lions (14) 26: Drieë: Lions Mapoe 2, Aphiwe Dyantyi, Kwagga Smith. Doelskoppe: Elton Jantjies 3
Sharks (7) 19: Drieë: Robert du Preez, S’bu Nkosi, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Du Preez 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Beide spanne het by tye goeie rugby gespeel net om dit met ongedwonge foute ongedaan te maak.
Veral die Sharks sal moet ligloop in die opsig teenoor veral die NZ-spanne wat vinnig is om sulke foute uit te buit.

danie ·

Ek onthou so paar jaar terug was die comment gemaak dat daar te veel afrikaners in die shark se span is dis die rede vir die swak spel. En daarom is ek dou maar n trotse Lion. Go manne julle speel hoender vleis lekker rugby

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.