Die spook van Loftus

Loftus Versfeld

Loftus Versfeld

Dis waar die storie van die Spook van Loftus posgevat het, want ander spanne, ook oorsese spanne, het nie daarvan gehou om op Loftus Versfeld te speel nie.

Die ou Loftus, voordat die nuwe paviljoene een vir een verrys het, het baie meer afdraande van noord na suid geloop. Dit was seker maar vir beter dreinering, want dit was in die dae toe daar nog `n kolfblad in die middel was en krieket op die heiligdom van rugby gespeel is.

Wanneer Thys Lourens, of een van die ander seëvierende kapteins voor hom, die loot gewen het, is daar klokslag besluit om in die tweede helfte afdraande te speel. Die stryd was dan gewonne.

Noudat dat `n mens daaroor dink, dit was eerder oor die bors wat begin brand het en die asem wat kort geraak het oor die hoogte bo seespieël, want destyds was die spelers glad nie so fiks soos vandag nie.

Een van die staaltjies wat om die braaivleisvure oor die Bok-flank Francois Louw se platjie-oupa, Jan Pickard, vertel word, is dat hy die loot as Westelike Provinsie se kaptein teen Noord-Transvaal verloor het en in die tweede helfte opdraande van suid na noord moes speel .

Toe die WP uitgedraf het, het Pickard die Streeptruie na die ander kant van die veld gelei. Die Noord-Transvalers was duideklik onkant betrap toe hulle opgedraf het.

“Kom, kom, kom, ons mors tyd, laat die wedstryd begin,” het Pickard aan die skeidsregter gesê en die bal aan sy losskakel gegee om af te skop.

Die All Blacks speel Saterdag op Edenpark, hul grootste bondgenoot, teen Wallis.

Die Nieu-Seelanders het laas in 1994 in Auckland verloor, toe die Franse hulle 23-20 geklop het. `n Maand later het die All Blacks 18-elk gelykop teen die Bokke gespeel en sedertdien was hulle in 34 agtereenvolgende toetse op Edenpark onoorwonne, insluitende die Wêreldbeker-eindstryd in 2011.

Die swartspan het reeds 2 122 punte op Edenpark opgestapel, meer as twee keer soveel as op ander velde.

Dis geen wonder nie dat wanneer die Britse en Ierse Leeus aanstaande jaar deur Nieu-Seeland toer, twee toetse op Edenpark gespeel word.

Daar is verskeie redes hiervoor, want die ander stadions in Nieu-Seeland is aan die klein kant en geldelik maak dit sin.

Maar diep in hul binneste weet die All Blacks dat hulle `n groot voordeel het, soos wat Noord-Transvaal destyds op Loftus gehad het en die Bokke jare lank op Ellispark gehad het voordat die All Blacks dit bederf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henry ·

Ek dink daai Loftus-spook het die pad gevat toe Carltonbeker kragmetings tussen Tukkies en Polisie nie langer 30,000 en meer toeskouers gelok het nie.
Wil al lyk asof die Bul wat deel van die spelers in doerie tye was, ook die pad gevat het.
Snik

Nico K ·

Ja die verlate velde by klubrugby is darem jammer. Ek dink die koms van TV was die groot sondaar. As jy daardie jare op ‘n Saterdagmiddag wou rugby kyk, en jou provinsiale span het nie tuis gespeel nie, het jy gaan klubrugby kyk. (Jy sou wel vanaand op die nuus die res van die land se uitslae hoor.) Maar nou is daar net te veel sport op die TV.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.