Die Springboklesse van 1970

Wat het oor die jare in rugby verander? Nie veel nie.

En nou praat ons nie van die reëls en betaling van spelers nie.

Agt dae gelede was die Springbokspan in sak en as en die ondersteuners op moedverloor se vlakte. Moeg vir verloor, want hoe dan anders as jy teen die powere Wallabies-span slae kry en ook jou rieme teen die Poemas styfloop?

Sewende op die wêreldranglys, ʼn erg krimpende ondersteuningsbasis, toetskaartjies wat nie uitverkoop nie (daar was verlede maand op Kingspark slegs 26 000 toeskouers toe die Bokke teen die Poemas gespeel het) en die bespotting om braaivleisvure en op sosiale media.

Maar ná verlede Saterdag se oorwinning van 36-34 oor die All Blacks in Wellington, is die ondersteuners sweer vuur en vlam.

Kaartjies vir die komende toetswedstryde teen die Wallabies in Port Elizabeth en die All Blacks op Loftus Versfeld is binne ʼn paar uur opgeslurp, die Springbok-ondersteunerstruie wat so styf om die middel pas en diep in die kas gebêre was, is trots weer uitgehaal.

ʼn Mens hoop werklik nie dat die sege oor die All Blacks eenmalig was en valse hoop skep nie, en dat die span weer terug in die groef van middelmatigheid gaan beland waarin hy die afgelope twee tot drie jaar verval het nie.

Kom ons blaai terug in die geskiedenisboeke na 1970, toe die Springbokspan op sy knieë was ná die rampspoedige toer van 1969/’70 deur Brittanje. Toe het die Bokke nie een van die vier toetswedstryde teen die tuisunies kon wen nie en het hulle ook drie toerwedstryde verloor.

Die 1970-All Blacks het ʼn paar maande later deur Suid-Afrika getoer en, net soos met die huidige span, het baie min ondersteuners en selfs kenners die Bokke ʼn kans gegee.

Die All Blacks het immers tussen 1960 (die derde toets teen die Bokke in Port Elizabeth) en 1965 (die derde toets in Christchurch) in 20 toetswedstryde nie een keer verloor nie en net twee keer gelykop gespeel.

Tussen 1965 en 1970 was hulle in 17 opeenvolgende toetswedstryde onoorwonne. Hulle het die wêreldmaatstawwe gestel, vernuwing met hul avontuurlustige spel gebring, en hulle was (byna) onoorwinlik. Net soos die huidige span.

Maar toe klop die Bokke hulle in 1970 met 17-6 in die eerste toets op Loftus.

Die besluit was dat die All Blacks voor vasgevat moet word en dat hul nerwe afgeduik moet word.

En wat gebeur 48 jaar later in Wellington? Die Bokke vat die All Blacks toe weer voor vas en duik weer hul nerwe af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre Massyn ·

Weerskante van Nieu Seeland se 17 oorwinnings was die twee neerlae – beide teen dieselfde span: die Springbokke. Dit was in die derde toets i n 1965 in Christchurch – Tiny Naude se toets – en die eerste toets in 1970 op Loftus. Laasgenoemde was toe Joggie Jansen Wayne Cottrell aan flarde geduik het en Dawie en Siddie gedruk het. Vgl. Springbok Rugby-Vasvra. My selfoonnommer is 082 900 9253.

Pieter ·

Pieter, baie dankie vir die lekker berig – laat mens ver terugdink! Al wat hinder is jou verwysing (‘n glips?) na die “opkomende” toetswedstryde, in plaas van “komende” toetswedstryde… Let asb daarop dat hierdie foutiewe navolging van die Engelse “upcoming” ‘n wanpersepsie by gewone lesers skep. Sien PHAROS: “komend” (-ende) = … coming, to come, next, future, upcoming… “upcoming” = komende, naderende, wat op hande is… Daarteenoor beteken “opkomend” (-ende) … rising (sun), emergent/emerging (industry) “opkomende bedryf”. Sien ook HAT6: “opkomende boer”… ‘n nuwe boer, iemand wat nog nie lank boer nie… Baie dankie vir jou aandag hieraan – noem dit gerus ook weer vir jou kollegas. Sien uit na jou volgende berigte! Groetnis…

Landi Slatter ·

Dagsê Pieter

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Dries ·

dit was vir my ‘n wonderlikke voorreg om as standard 2 laaitie die 1ste toets by te woon waar Siddie onderskep het , asook die spannende 4de toets op Ellispark.

Willem ·

Ek was by die huis en het oor die radio gehoor hoe skree Gerhard Viviers ‘ Siddie, Siddie, Siddie”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.