Die Stormers se jongste innovasie

Paul Treu – aanval én verdediging (Foto: kenyanrugger.blogspot.com)

Dis maar weer dieselfde ou storie: moenie krap waar dit nie jeuk nie.

Die Stormers se afrigtingspan gaan vanjaar ʼn vernuwingskuur ondergaan, amper soos Hannon wat iemand se voorkoms op televisie vir ʼn dag of twee verander.

Dalk het die Stormers se hoofafrigter, Robbie Fleck, ʼn goeie humorsin. Hoekom anders sou daar van twee of meer afrigters gebruik gemaak word wanneer die span op die aanval of verdediging (glo gestruktureerd en ongestruktureerd) gaan wees? Dit maak mos nie sin nie?

Kortliks, Paul Treu, verlede jaar se verdedigingsafrigter, is vanjaar ook in beheer van aanval, maar net vir die eerste drie fases. Dan neem die Nieu-Seelander Paul Feeney oor, want die fases hierna word as ongestruktureerd beskou.

Ai, ai, ai… Wat dan van die 41 fases waardeur die Iere die bal geneem het in die onlangse toets teen Frankryk in Parys? Sal Treu in so ʼn geval in beheer vir die eerste drie fases wees en Feeney vir die volgende 38?

As die teenstanders op die aanval is, is Treu dan in beheer van die eerste drie têkkels en Feeney en die hulpafrigter Russell Winter vir die volgende 38?

Jare gelede het die Springbokke, as ek reg onthou nog in Harry Viljoen se dae, programmatuur in samewerking met die WNNR ontwikkel om die Springbokspan in wêreldbrekers te ontwikkel.

Maar spelers is nie robotte nie, al wil afrigters hulle daarin ontwikkel.

Wat gebeur as die losskakel of enige ander speler die bal direk uitskop, die bal aanslaan of vorentoe aangee; of as jou besit stadig gemaak word, jou verdediging jou in die steek laat, jou stut sy greep verloor of sy voete gly; of wat as jou haker die bal skeef ingooi, jou teenstander se slot die bal voor jou in die lynstane wegklap, jy doodgevat word, onkant betrap word, iemand seerkry of ʼn geelkaart kry, as die wind begin waai, as dit begin reën? As, as, as…

Nee menere, laat van die dinkwerk maar aan die spelers op die veld oor, probeer eerder om drieë te druk.

♦  Nietemin, die Bok-bestuur was destyds  in hul noppies met die spelers se bereidwilligheid en samewerking, want daar het nie ʼn oomblik op die spanbus of in hul hotelkamers verbygegaan sonder dat hulle werksaam was nie.

Eers later is daar agtergekom dat hulle ander speletjies op hul rekenaars gespeel het.

♦  Vir die rekord: Viljoen (hy was baie innoverend en dalk te ver vooruit vir sy tyd) kon net agt uit 15 toetse wen vir ʼn wenpersentasie van 53,33 persent voordat hy bedank het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.