Die stryd om die laaste vier plekke neem toe

currie cup logo 2016.jpgUiteindelik begin die reeks nou na regte Curriebekerrugby lyk met vyf spanne wat die naweek nie een ʼn neerlaag kan bekostig nie.

Die Sharks, die Vrystaat Cheetahs, die Goue Leeus, die Westelike Provinsie en die Blou Bulle is die gunstelinge om die vier uitspeelplekke te haal, maar Griekwas moet nie heeltemal weggegooi word nie.

♦ Vrydagaand speel die Goue Leeus op Ellispark teen die Westelike Provinsie, die span wat hy in verlede jaar se eindstryd geklop het.

Albei die spanne sukkel nog om hulle spanritme te vind, ondanks ʼn goeie klomp spelers aan albei kante. Met die agterspelers tot albei se beskikking, kan hierdie ʼn hardlooopfees word.

Die Leeus is bekend vir hulle hardlooprugby, en die WP het onder John Dobson na jare se stugge rugby daarby ingekoop.

Die WP kom Johannesburg toe met die soort selfvertroue wat ʼn oorwinning oor die voorste span, die Sharks, bring. Maar dit was verlede week, toe die Leeus aan die ander kant op Loftus taamlik deeglik tweede teen die Blou Bulle gekom het.

Johan Ackerman , afrigter van die Leeus, is versigtig oor die pak van die WP wat in die lynstane maar ook met ʼn stewige voorry sake kan omkrap en selfs beheer. En hy wys op die vaart van die WP se buite-agterspelers wat groot probleme vir die Leeus kan veroorsaak.

Sy span is juis nie ʼn gevestigde eenheid nie. Dit was die afgelope jare een van die Leeus se sterkpunte.

Hulle het Jaco van der Walt as losskakel wat sekerlik meer ritme as Marnitz Boshoff sal verskaf, en ʼn nuwe senterpaar waar Rohan Janse van Rensburg weer binnesenter speel en die WP sal besig hou.

Ruan Ackermann het in sy vorige twee wedstryde onderskeidelik slot en agsteman gespeel en is die naweek die nommer sewe-flank. Saam met Kwagga Smith en Fabian Booysen behoort hulle die losbal te beheer teen ʼn span wat swaar met beserings aan hulle losvoorspelers getref is.

Dit kan deurslaggewend wees.

Dit sal taai wees, want daar is nie veel tussen die twee te kies nie. Die WP  met sy snellers en die Leeus met hulle benadering sal vir lekker rugby sorg, met die tuisspan wat dalk net-net kan wen.

♦  Die Vrystaat het in 2011 laas teen die Sharks in die Curriebeker se Premierliga gewen. Die Vrystaat sal met sy nuwe hardloopbenadering foute moet beperk teen ʼn veel sterker span as verlede week toe hulle die LOP Kings teen die einde flenters gehardloop het.

Die tuisspan, wat self al hoe meer by hardlooprugby inkoop, het die manne om omkeerbesit goed te gebruik. Hulle sal egter seker meer versigtig te werk gaan na verlede naweek se neerlaag teen die WP.

Stephan Lewies is terug na sy besering. Die Springbokslot bring ʼn nuwe stewigheid na die tuispak, waar die Sharks verlede week nie op alle silinders gevuur het nie. Saam met Etienne Oosthuizen moet  hulle dinge laat gebeur in twee stelle voorspelers wat albei oor goeie lostrio’s beskik, met die Sharks dalk net-net beter daaraan toe.

Agterlangs sal die vonke spat. Die jong losskakel Inny Radebe, wat deur Pat Lambie touwys gemaak word, en die bogsnuiter-heelagter Curwin Bosch, is spelbrekers soos min.

Maar teenoor hulle is daar die Cheetahs se Clayton Blommetjies, Nico Lee, William Small-Smith en Raymond Rhule …

Dit kan ʼn riller wees.

♦ Die Blou Bulle was verlede naweek goed teen die Leeus wat nie op hulle stukke was nie. Die afrigter Nollis Marais sal hoop die insinkings wat dusver die seisoen gekom en gegaan het, is in Nelspruit afwesig. Hy soek momentum vir sy span, en twee goeie vertonings sal in dié opsig help.

Die Bulle sal dit sonder hulle beseerde kaptein Arno Botha en die belowende en opwindende heelagter Duncan Matthews moet doen.

Die Pumas is nooit maklik nie, veral nie in Nelspruit nie, maar kort vanjaar net daardie ietsie. Dit sal dus  verbaas as die Bulle, aangevoer deur Hanro Liebenberg, sou vasval.

 

Goue Leeus vs WP, Ellispark, Vrydagaand, 19:00

Goue Leeus: 15 Andries Coetzee, 14 Selom Gavor, 13 Jacques Nel, 12 Rohan Janse van Rensburg, 11 Anthony Volmink, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronjé (kapt.), 8 Fabian Booysen, 7 Ruan Ackermann, 6 Kwagga Smith, 5 Lourens Erasmus, 4 Jean-Pierre du Preez, 3 Ruan Dreyer, 2 Robbie Coetzee, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Jacques van Rooyen, 18 Andries Ferreira, 19 Cyle Brink, 20 Ruaan Lerm / Steph de Wit, 21 Ashlon Davids, 22 Howard Mnisi.
Westelike Provinsie: 15 Cheslin Kolbe, 14 Werner Kok, 13 EW Viljoen, 12 Johnny Kotze, 11 Leolin Zas, 10 Robert du Preez, 9 Jano Vermaak, 8 Kobus van Dyk, 7 Jurie van Vuuren, 6 Rynhardt Elstadt, 5 Chris van Zyl (kapt.), 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Mike Willemse, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Neil Rautenbach, 17 Alistair Vermaak, 18 JP Smith, 19 Jacques Vermeulen, 20 Eital Bredenkamp, 21 Dewaldt Duvenage, 22 Scott van Breda.
Skeidsregter: Jaco Peyper

Sharks vs Vrystaat Cheetahs, Kingspark, Saterdag, 17:00

Sharks: 15 Curwin Bosch, 14 Odwa Ndungane, 13 Lukhanyo Am, 12 Andre Esterhuizen, 11 Sibusiso Sithole, 10 Inny-Christian Radebe, 9 Stefan Ungerer, 8 Philip van der Walt, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Keegan Daniel (kapt.), 5 Stephan Lewies, 4 Etienne Oosthuizen, 3 Thomas du Toit, 2 Franco Marais, 1 Juan Schoeman. Bank: 16 Mahlatse Ralepelle, 17 John-Hubert Meyer, 18 Ruan Botha/Jean Droste, 19 Francois Kleinhans/Jean Deysel, 20 Michael Claassens/Hanco Venter, 21 Wandile Mjekevu, 22 Rhyno Smith.
Vrystaat Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 Ryno Benjamin, 13 Nico Lee, 12 William Small-Smith, 11 Raymond Rhule, 10 Fred Zeilinga, 9 Tian Meyer (kapt.), 8 Henco Venter, 7 Uzair Cassiem, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Carl Wegner, 3 Tom Botha, 2 Torsten Van Jaarsveld, 1 Ox Nché. Bank: 16 Jacques Du Toit, 17 Charles Marais, 18 Justin Basson, 19 Niell Jordaan, 20 Shaun Venter, 21 Niel Marais, 22 Michael van der Spuy.
Skeidsregter:  Rasta Rasivhenge

Pumas vs Blou Bulle, Mbombelastadion, Saterdag, 19:10

Pumas: 15 Williams Devon, 14 Bernardo Botha, 13 Hennie Skorbinski, 12 Marlou van Niekerk, 11 Jean-Paul Lewis, 10 Francois Brummer, 9 Emile Temperman, 8 Renaldo Bothma (kapt.), 7 Lambert Groenewald, 6 Brian Shabangu, 5 Jannie Stander, 4 Wiehan Hay, 3 Marne Coetzee, 2 Frank Herne, 1 De Jay Terblanche. Bank: 16 Simon Westraadt, 17 Louis Albertse, 18 Stephan Greeff, 19 Carel Greeff, 20 Kevin Luiters, 21 Leighton Van Wyk, 22 Ruwellyn Isbell.
Blou Bulle: 15 Ulrich Beyers, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Piet van Zyl, 8 Hanro Liebenberg (kapt.), 7 Nic de Jager, 6 Ruan Steenkamp, 5 Marvin Orie, 4 RG Snyman, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Bandise Maku, 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Martin Dreyer, 18 Irné Herbst, 19 Roelof Smit, 20 Andre Warner, 21 Joshua Stander, 22 Divan Rossouw.
Skeidsregter:  Stuart Berry

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.