Die swakste bewaarde geheim nog nie bekend

Mark Alexander - wanneer kom die aankondiging(s)? Foto: Facebook/Saru

Mark Alexander – wanneer kom die aankondiging(s)? Foto: Facebook/Saru

Die die einde van die maand en die besluit oor die toekoms van die Springbokafrigter en sy afrigtingspan is nog nie bekend gemaak nie.

Maar noudat ʼn mens daaroor dink, die rugbybase het nie gesê aan die einde van watter maand die aankondiging kom nie.

Darem bygesê, Saru se president, Mark Alexander, het verlede week in ʼn verklaring gesê dat die uitvoerende bestuur die terugvoer oor 2016 se vertonings ontvang en krities ontleed het, dat hulle met die spelers en afrigter gesels het en ʼn paar stappe so gou as moontlik sal doen.

Vir diegene langs die kantlyn is dit sekerlik nie te moeilik nie. Net vier oorwinnings in 12 toetse. Dit som mos alles op, ongeag die versagtende omstandighede.

Maar dit sal nie gebeur nie.

Wat kommerwekkend is, is dat daar bespiegel word dat die spandokter se kop gaan rol, asook dié van Mzwandile Stick.

Ja, daar is glo na bewering ʼn geleentheid of twee waar die spandokter kleigetrap het. Maar het hy enige insae oor taktiek en voorbereiding gehad, het hy die bal ooit aangeslaan, het hy ʼn paar têkkels gemis, die bal skeef in die lynstane gegooi en die skrums laat val?

En as hy na bewering nie die mas opgekom het nie, wie het hom in die eerste plek aangestel?

Almal weet hoekom Stick aangestel is en hy nou vir die wolwe gegooi word. Almal het geweet hy het geen noemenswaardige ervaring op internasionale vlak nie, maar hoekom het hy die jawoord gekry?

Hy sal na alle waarskynlikheid deur die ervare Brendan Venter vervang word, hoewel dit in ʼn ander hoedanigheid sal wees.

Wat baie belangrik is, is dat die beleid oor die kies van oorsese spelers vasgepen moet word, dat die fiksheidspeil opgeknap moet word, dat die Bokke meer voortvarend moet wees, dat hul taktiese skopwerk in die kol moet wees. Ja, ja, ja …

En o ja, dat die afrigter vir die Junior Bokke dringend aangewys moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zahn ·

Baie snaaks dat MM nog nie kommentaar gesluit het vir die artikel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.