Dié toetsrugby is mos kuikenmoord

Toetsrugby in die laer Europese reekse het in die jongste ronde niks anders nie as kuikenmoord opgelewer.

Die 95ste gekeurde Bulgarye (daar is 105 gekeurde spanne op die wêreldlys) het die ongekeurde Montenegro met 57-0 verniel (rustyd 22-0).

Dié kragmeting in Rugby Europa (RE) se Ontwikkelingsreeks is in Nikšić, Montenegro, beslis.

Rugby in Montenegro, wat voorheen deel van Joego-Slawië was, het in 2011 met raakrugby ontstaan; sewesrugby het gevolg; en teen 2013 was daar vier volwaardige klubs. ʼn Streekliga is eers in 2014 gestig.

Die Bulgaarse losskakel, Petar Nikolof, het 27 van sy span se punte aangeteken. Hy het twee drieë gedruk, sewe verdoel, en met ʼn strafdoel geslaag.

Sy loopbaantotaal van 57 is net vier minder as die Bulgaarse rekord.

Die vleuel Iwajilo Iwanof se twee drieë plaas hom een kort van die nasionale rekord van elf.

♦ In Afdeling 2 Noord van RE se kampioenskap het Luxemburg (63ste op die ranglys) vir Finland (98ste) in Luxemburgstad met 45-5 oorrompel (rustyd 24-0).

Sy losskakel William Browne het 15 punte met ses doelskoppe en ʼn strafdoel bygedra.

Luxemburg is ná drie wedstryde onoorwonne en loop voor in dié reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.