Die uurglas loop vinnig leeg

Vandag, oor 651 dae, begin die Wêreldbekertoernooi van 2019 in Japan.

Dit klink nog ver in die toekoms, maar dit is nie, want daar is geen sekerheid oor die nasionale afrigter nie.

Wie ook al die leisels neem, sal minder as twee jaar hê om homself behoorlik in te grawe, die regte spelers te identifiseer en te kies, die spelers hulle met sy spelpatroon laat vereenselwig en hul vaardighede op te skerp.

Kom ons vergelyk dit met die ander voorste rugbylande:

Nieu-Seeland: Nommer 1 op die wêreldranglys, die huidige Wêreldbekerkampioen en die houer van die Rugbykampioenskap, met ʼn gevestigde spelpatroon, spelersdiepte, spelskeppers en spelbrekers en Steve Hansen wat in die saal is tot ná die toernooi. Kommer? Geen.

Engeland: Nommer 2 op die ranglys en in my boekie die vroeë gunsteling. Onder Eddie Jones (neem kennis Saru, ʼn buitelandse afrigter!), het Engeland van ʼn voortploeterende en swak afgerigte span (lui dit nie ʼn klokkie nie?) onder die vorige afrigter, Stuart Lancaster, straks tot die gedugste eenheid in wêreldrugby ontwikkel. Jones het nuwe spelers ontdek, gekies en ontwikkel. Hy het die volle steun van die Engelse Rugbyunie wat sy planne steun en R216 miljard beskikbaar gestel om om die WB-kroon te wen. Swakplekke: Byna geen.

Ierland: Nommer drie op die ranglys. Onder die Nieu-Seelandse afrigter Joe Schmidt, verskuif die Iere berge. Dit sit nie in enige span se broek om die All Blacks en Bokke in dieselfde jaar (2016) te klop nie. Ondanks ʼn gebrek aan spelersdiepte, het die Iere gewys wat passie, trots en goeie afrigting kan doen. Gebreke: Kan hulle sewe wedstryde op die ry af wen?

Australië: Vierde op die ranglys. Of jy nou van die brombeer Michael Cheika hou of nie, hy kan ʼn span opsweep en goed afrig. Balvaardige spelers soos Israel Folau en Kurtly Beale hou die sleutel. Gebreke: Baie, maar Cheika steek dit goed weg.

Skotland: Vyfde op die ranglys. Onder die gewese Skotste losskakel Gregor Townsend ontwikkel die Skotte die meeste en vinnigste van alle spanne. Maar daar sal altyd ʼn gebrek aan spelersdiepte en genoeg fisieke spelers in Skotland wees.

Suid-Afrika: Sesde op die ranglys: Siesa!

Dis hoekom die Suid-Afrikaanse rugbybase baie goed moet besin wanneer hulle Donderdag oor die toekoms van Allister Coetzee moet besluit

Daar is net vier keuses:

Lok vir Johan Ackermann van Gloucester af terug … maar dit sal nie gebeur nie.

Kies ʼn buitelandse afrigter soos John Mitchell. Moenie inmeng nie, laat hom toe om sy patroon te skep en te ontwikkel … dit sal ook nie gebeur nie.

Hou vir Allister Coetzee, met Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, wat oor sy skouer sal loer … dis nag.

Kies vir Deon Davids, met Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, wat oor sy skouer sal loer … dit bly nag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

Dankie vir die berriggewing. Maroela begin feite aanvaar. Gaan aan met AC en bokke haal nie kwarteinstryd. Hoe groot skande sal dit wees. Gellukig met AC daar sal dit weer n nuwe ervaring wees met almal wat goed geoefen het, sleg verloor het maar trots kan voel op wat bereik is. Almal sal baie geleer het. Grapkas Coetzee

wesley ·

Ek verstaan nie die twee eerste opsies van Ackerman en Mitchell nie. Rassie is n uitgemaakte saak, hy gaan oor skouers loer maak nie saak wie in kom as afrigter nie. Die enigste afrigter wat oor se skouer moet geloer word is Allister, en dit is as hul hom aanhou.

Veritas ·

Ek dink ook Alistair behoort as afrigter vir die wêreldbeker behou te word. Dalk sal diegene wat hom aangestel het dán besef dat hulle fouteer het. My gevoel is dat ons gewese Springbokondersteuners moet begin jukskei speel. Ek glo nie die ANC sal belang stel daarin om dit ook te vernietig nie. Daar is in elk geval minder internasionale kompetisie en ons kan dus makliker die wêreldtitel inpalm . Met rugby gaan ons dit nie binne die volgende sestig jaar regkry nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.