Die vreugdevure brand baie hoog op Ellispark

Dit kos twee Bulls om te keer dat hulle kaptein RG Snyman nie van byna twee meter af grond toe val ná hy ʼn afskop onder beheer gekry het nie. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Kwarteindwedstryd, ʼn halfeindstryd en ook die moontlikheid van ʼn eindstryd op Ellispark wink nou vir die Lions nadat hulle Saterdag op Ellispark die Bulls met 38-12 in hul laaste groepwedstryd afgeransel het.

Ja, dinge kan baie vinnig in rugby verander.

Nadat die Waratahs vroeër in Sydney onverwags met 40-31  deur die Brumbies geklop is, het dit die deur vir die Lions oopgeswaai om bo die Waratahs in die tweede plek op die algehele puntelys te eindig.

As die Lions dus bly wen en hulle die Crusaders kan vryspring, is al drie uitspeelwedstryde op Ellispark.

Lekker man, lekker!

Behalwe die eerste kwartier, toe die Bulls twee drieë deur Manie Libbok en Jesse Kriel gedruk het, het dit nooit gelyk of die Bulls sou wen nie.

Marvin Orie, slot van die Lions wat die seisoen van krag tot krag gegaan het, aan die hardloop teen die Bulls. (Foto: GB Jordaan)

Ai, waar was hul dissipline? Die Bulls het afgesien van ʼn geelkaart aan die loskopstut Pierre Schoeman in die eerste helfte tien strafskoppe afgestaan.

In die beweging wat kort voor rustyd tot Courtnall Skosan se drie gelei het, het die Bulls drie keer oortree, maar die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, het wyslik voordeel bly toelaat.

Rustyd was die Lions met 19-12 voor en dit was nie meer ʼn geval van as nie, maar met hoeveel punte hulle sou wen, veral nadat die Bulls ook later  ʼn strafdrie afgestaan het.

Die Lions is nog nie eksie-perfeksie nie. Soms is die besluitneming nie na wense nie en ʼn mens kry ook koue rillings omdat hulle by ses geleenthede nie pale toe wou skop nie.

Maar, wie gee om, wie kan met ʼn wit brood onder die arm kla as jou rolmale tot drieë lei en as die ander spanne só afgetakel word?

Is dit nie maar deel van hul wedstrydplan nie, om die spel vinnig te maak en om al 15 spelers in te span nie?

Hulle druk drieë, meer as hul teenstanders en wanneer dit gebeur, moet hulle mos ʼn kans teen enige span staan.

Jannes Kirsten word voorgekeer deur Ruan Dreyer en Malcolm Marx, met Ivan van Zyl wat links naderstaan en Jaco Visagie en Jama Ulengo ook byderhand om help. (Foto: GB Jordaan)

En die Bulls? Wel, hul afrigter, John Mitchell, het  groot planne vir hulle. Hy wil nuwe denkpatrone vestig en hy wil hulle hardlooprugby laat speel.

Maar as daar nie dissipline is nie, gaan daar dadels van kom.

Iewers is ʼn skroef los, want as dit nie weens ʼn gebrek aan ervaring is nie, wag daar groot probleme in die Jakaranda-stad.

Puntemakers ‒

Lions (19) 38: Drieë:  Ruan Combrinck (2), Malcolm Marx, Courtnall Skosan, strafdrie (7 punte), Aphiwe Dyantyi. Doelskoppe: Elton Jantjies (3).
Bulls (12) 12: Drieë: Manie Libbok, Jesse Kriel. Doelskop: Libbok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joe ·

Weet nie wat Mitchell gaan doen nie, maar met hierdie klomp paloekas gaan die Bulle nerens kom nie. Daar is omtrent net 4/5 spelers in hierdie span wat behoort geld te kry vir hierdie gemors.

Frans C ·

Ongelukkig het die Bulle die neiging om wanneer dinge nie volgens plan verloop nie,die gewoonte om weer terug te val na die tiepe spel voor Mitchell oorgeneem het.Dit lyk my nie almal val in by die nuwe spelpatroon nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.