Die vurige tweestryde tussen Bobbies en Wits

rugby

Argieffoto.

Dit was jare gelede toe Wits en Polisie se rugbyspanne nog jaarliks bolle gerol het.

Die Vrydag toe daar beplanning vir die naweek se sportgebeure in die sportkantoor gedoen is, is ek aangesê om die Saterdagmiddag by die ou Arthur Bloch-park in Mayfair (wat nou meestal deur die Yebo Yes-sokkerspan gebruik word), verslag oor die kragmeting in die Pirates Groot Uitdaagbeker tussen Polisie en Wits te doen.

“Vergeet van die rugby, Gerhard Burger sal dit doen. Hou jou oë oop vir wanneer die bakleiery op die veld en tussen die toeskouers gaan uitbreek.”

Let wel, nie as nie, maar wanneer dit gaan gebeur, is ek verseker.

Dit was in die onstuimige dae, toe die Witsies ‘n “klomp kommies” genoem is en die Bobbies nie kon wag om hul handtake op hul tuisveld te volbring nie.

Wits kon nog selde saam met Tukkies of Maties op die rugbyveld gesels en het sedert sy bestaan die Pirates Groot Uitdaagbeker nog net twee keer gewen, ­ in 1967 en weer in 2019.

Tog was die klub geseënd met ‘n rits Springbokke soos Wilf Rosenberg, Clive Ulyate, Joe Kaminer, Mike Antelme, Alan Menter en Paul Bayvel.

Latere jare het Piet Kruger, James Small, Deon Lotter en diesulkes bygekom.

Die dag teen die Bobbies was drie van die vier Bayvel-broers (Paul, Coke, Norman en Nicky) in aksie, asook Ken Resnick en Bobby Grace wat vir Transvaal gespeel het.

Die wedstryd was nog nat van die afskop toe die humeure al opgevlam het. Ek kon myself indink wat daar in die kleedkamer voor die wedstryd gesê is, want dit het gou-gou oorgespoel.

Daar was hoog- en laatvatte, ‘n gestamp en gestoei en dit was net ‘n kwesssie van tyd voordat die spelers besef het dat die skeidsregter “ook geplant” was.

Dis toe dat van die toeskouers ook onder van die langhaarstudente wat glo protesliedjies gesing het waarvan niemand die woorde geken het nie, ingevlieg het.

En die eindtelling? Niemand het omgegee nie.

Maar nou het dinge baie verander en is Wits naas Maties die enigste onoorwonne spanne in vanjaar se Varsitybeker-reeks.

Hulle speel goeie rugby, is goed afgerig en eintlik verdien hulle om saam met Maties as Varsity-kampioene gekroon te word.

Maar of die reeks betyds afgehandel sal word, sal niemand weet nie.

Die Witsies is nie meer “kommies” nie en wanneer hulle teen Polisie speel, word daar (in Afrikaans) tot laataand oor die slagvelde van die verlede gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.