Die Wallabies het eenvoudig te veel leemtes

                       (Logo thepintsa)

Kan die Wallabies dit dalk, net dálk, regkry om Saterdag hul eerste oorwinning in 32 jaar op Edenpark teen die All Blacks te behaal?

Snaakser rugbydinge het al gebeur, maar dis hoogs onwaarskynlik. Behalwe as hulle 80 minute druk op die All Blacks kan volhou, want verlede Saterdag het die Wallabies die All Blacks met puik opskietverdediging ontsenu.

Dit was duidelik dat die All Blacks onder druk, ook maar kwesbaar is en foute maak ‒ in elk geval tot twee minute voor rustyd toe hulle gaan druk het.

Daarná het die Nieu-Seelanders weer oorgeneem soos hulle maar altyd ná rustyd maak.

Daar is egter twee onsekerhede oor hoe die Wallabies dit gaan regkry om te verras. Die eerste is dat hulle klaarblyklik nie fiks genoeg is nie; en die tweede is dat hulle meer besit sal moet kry en daardeur punte op die telbord moet plaas.

Nog twee voorwaardes is dat die twee nuwe stutte Allan Alaalatoa en Scott Sio groter stewigheid in die skrum moet verleen, en selfs domineer, en dat hulle ten minste hul eie lynstane moet wen.

Lynstane wen? Dis nie net die haker, Tatafu Polota-Nau, se swak ingooiwerk wat moet verbeter nie. Die Wallabies is ook te stereotiep in hul lynstaanopsies en daarna hul rolmale en maniere om daarvandaan die bal te versprei.

Michael Hooper en David Pocock se vermoë om saam te jag en balle op die grond te steel, kan deels  die skuld vir die lynstaangesukkel kry. Met hierdie twee uitnemende baljagters boet die Wallabies ʼn lang lynstaanman in en is hul twee slotte Adam Coleman en Izack Rodda in elk geval minder effektief as die All Blacks se langerate.

Die Wallabies kon nie binne die afgelope week fiks geword het nie. (Of was hulle verlede week bloot ooroefen en dus tam?) Die skrum sal nie dramaties sterker wees nie. Wat gaan hulle doen om meer besit as verlede naweek te kry?

En watter ander taktiek behalwe volgehoue ‒ en onwaarskynlike ‒ druk het hulle om die All Blacks mee onkant te betrap?

Boonop het die Wallabies hul grootste angel, die heelagter Israel Folau, met ʼn besering verloor.

Die groot en moontlik die heel belangrikste vraag is of die Wallabies werklik gló hulle kan wen. Dis rugby se ou-ou storie van voor oorheers en dit vir 80 minute vol te hou, en selfs hul getrouste ondersteuners glo nie dit kan gedoen word nie.

Spanne ‒

Nieu-Seeland
15 Jordie Barrett, 14 Ben Smith, 13 Jack Goodhue, 12 Ngani Laumape, 11 Waisake Naholo, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Karl Tu’inukuafe, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Damian McKenzie, 23 Anton Lienert-Brown.

Australië
15 Dane Haylett-Petty, 14 Jack Maddocks, 13 Reece Hodge, 12 Kurtley Beale, 11 Marika Koroibete, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Lukhan Tui, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Allan Alaalatoa, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Folau Fainga’a, 17 Tom Robertson, 18 Sekope Kepu, 19 Rob Simmons, 20 Pete Samu, 21 Nick Phipps, 22 Matt Toomua, 23 Tom Banks.

Afskop: Saterdag 09:35
Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland)
Assistentskeidsregters: Jaco Peyper (Suid-Afrika), Luke Pearce (Engeland)
TV-skeidsregter:: Marius Jonker (Suid-Afrika)
Verwagte weer: Gedeeltelike sonskyn en winderig.
Voorspelling: All Blacks met meer as 14 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.