Dié WB-aanspraakstryd bepalend vir talle uit SA

Jaco Otto (regs) – voorste driedrukker. (Foto: Jurgen Kessler/DRV)

ʼn Stuk of tien rugbyspelers en ʼn drietal afrigters met Suid-Afrikaanse wortels vestig hul hoop op deelname aan aanstaande jaar se toernooi in Japan om die Wêreldbeker op Saterdag se aanspraakstryd tussen Duitsland en Portugal in Heidelberg, Duitsland.

Duitsland het ses sulke spelers in sy opdrafspan ingesluit, en twee tel tussen die voorlopige tien bankspelers wat tot agt verminder moet word. Portugal het twee in sy 23-tal vir die kragmeting.

In albei gevalle kan die Suid-Afrikaners ʼn bepalende rol in die uitslag speel.

Sebastian Ferreira (slot), Jarrid Els (flank), Jaco Otto (flank), Ayron Schramm (agsteman), Raynor Parkinson (binnesenter), en Marcel Coetzee (heelagter) is in die Duitse opdrafspan. Marcel Henn (losvoorspeler) en Nikolai Klewinghaus (veelsydige agterspeler) is tussen die tien spelers waaruit die bank saamgestel moet word.

Ferreira het Superrugby vir die Kings gespeel, Els Curriebekerrugby vir Grens, en Schramm het die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig. Otto het o.21- en Coetzee o.19-rugby vir die Sharks gespeel. Parkinson het vir die

Raynor Parkinson – voorste puntemaker. (Foto: Jürgen Kessler/DRV)

Universiteit van Johannesburg (UJ) en Henn vir die NWU Pukke gespeel. Klewinghaus het in 2016 aan die Hillcrest High School tussen Durban en Pietermaritzburg gematrikuleer.

Parkinson is die voorste puntemaker en Otto die voorste driedrukker in die geskiedenis van Duitse rugby.

Die Wolwe se veelsydige agterspeler José Rodriques het 55 punte aangeteken in sy vier toetse tot dusver. Hy is op Standerton gebore, het vir Richardsbaai gespeel, en het die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig.

Die agsteman Jacques le Roux is weer nader getrek nadat hy in 2014 laas vir Portugal gespeel het. Hy het 13 toetse agter sy naam. Dié oudleerling van die Hoër Tegniese Skool Pretoria Tuine het Pretoria Polisie in 2006 by die destydse Nasionale Klubkampioenskap verteenwoordig.

Duitsland het, onder andere, ook drie lede van sy afrigtingspan met Suid-Afrikaanse wortels: Kobus Potgieter, Pieter Jordaan en Mouritz Botha. Laasgenoemde is in Vryheid gebore en het Engeland in tien toetse verteenwoordig.

José Rodrigues – 55 punte in vier toetse. (Foto: Facebook)

Die meerderheid Suid-Afrikaners, wat deur die Vereniging vir die Bevordering van Rugbysport (GFR), en nie deur die Duitse Rugbyunie (DRV) nie, gekontrakteer is, se toetstoekoms is steeds onseker nadat die skikking tussen die twee liggame in wese slegs op ʼn “wapenstilstand” neerkom.

Onenigheid tussen die twee liggame het daartoe gelei dat die meeste spelers en afrigters wat Duitsland die afgelope paar jaar tot ʼn krag in Europese rugby uitgebou het, nie vir vanjaar se Europese reeks beskikbaar was nie.

Duitsland het al sy wedstryde in die reeks verloor, en sy deelname aan die WB-aanspraakstryd spruit uit tugmaatreëls wat Roemenië, Spanje en België onderskeidelik hul tweede, derde en vyfde plekke in die reeks gekos het.

Potgieter sê die nuwe ooreenkoms tussen die DRV en die GFR geld slegs vir die toets teen Portugal en niemand weet wat daarna sal gebeur nie.

“Ons fokus is 100% op die wedstryd teen Portugal,” het die rugbydirekteur van die GFR op navraag aan Pale Toe! gesê.

Kobus Potgieter – “samespel nie probleem nie”. (Foto: DRV)

Hy glo nie samespel sal ʼn probleem wees nadat die GFR-groep vanjaar nog nie toetsrugby gespeel het nie.

“Tagtig persent van die toetsgroep het in Desember tot Mei in die reeks om die Kontinentale Skild teen die topklubspanne van Roemenië, Italië en Rusland gespeel. Dit was mededinging van ʼn hoë gehalte. Die res het weekliks in Frankryk gespeel.

“Die kort tyd saam kan dalk nie optimale voorbereiding bied nie, maar ons is positief dat ons teen Portugal kan wen.”

Potgieter sê hulle werk goed saam met die gewese Uruguaanse toetsstut Pablo Lamoine, wat ná die breekspul einde verlede jaar deur die DRV as afrigter aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.