Die wedstryd wat sy lewe vir altyd verander het

’n Inspirerende oomblik. Gerhard Swarts bid saam die Valke se rugbyspan ná ’n wedstryd. Foto: verskaf.

Gerhard Swarts, toe 14 jaar oud, het in Maart 2003 vir die Hoërskool Kanonkop se o. 14A-rugbyspan teen Meyerton se Hoërskool Dr. Malan gespeel in ’n wedstryd wat sy lewe in ’n oogwink vir altyd verander het.

Tien minute ná die afskop breek die talentvolle Swarts (wat op binnesenter uitgedraf het) deur die Meyerton-skool se verdediging en word in hul kwartgebied deur die heelagter grond toe gebring.

Wat daarna gebeur het, is vir ewig in Swarts se geheue ingeëts. “’n Losgemaal het gevorm en ’n speler het op my nek geval. Ek het drie klapgeluide gehoor en kon onmiddellik niks voel óf beweeg van my nek tot by my tone nie. Ek het besef my nek is gebreek.”

Swarts is per draagbaar van die veld gedra en gediagnoseer met ’n vlak C 4/5- spinale besering. Hy is van daardie dag af ’n kwadrupleeg.

“Vandat ek kan onthou, is ek mal oor sport. Ek het gelééf vir tennis, muurbal, gholf en veral vir rugby. Toe ek besef dat ek nooit weer aan my gunsteling-sportsoorte sou kon deelneem nie, was ek platgeslaan. Dit gaan nie net oor sport nie, my hele lewe is basies in ’n oogwink verwoes.”

Maar Swarts is een van daardie mense wat nie net die houe van die lewe kan hanteer nie, hy slaan ook met mening terug. En vandag is hy die tegniese ontleder van die Valke se Curriebeker-rugbyspan.

“Ek is baie dankbaar dat ek deur die jare nie my geloof verloor het nie – dit speel immers ’n reuserol in my lewe en ek glo die Here gee my die krag en genade om te bly droom en vorentoe te kyk. Ek hoop van harte dat die manier hoe ek die lewe aanpak ook vir ander hoop sal gee.”

Die pad na sy pos as ’n Curriebekerspan- tegniese ontleder het alles by Tukkies begin, toe hy as afrigter van Kiaat-koshuis vir twee jaar agtereenvolgens dié universiteit se koshuisliga gewen het.

“Daar was ’n insetsel oor my op SuperSport en kort daarna het die destydse afrigter van Harlequins-rugbyklub, George Simitipolis, my genader. Hy wou weet of ek sal belangstel om die tegniese adviseur van Quins se eerste rugbyspan te word. Ek het natuurlik ja gesê!”

Hy het hom daarna bewys deur as tegniese ontleder van Hoërskool Waterkloof en Tukkies se Carltonbekerspan op te tree. In 2013 is hy deur die Valke opgeraap.

“Basies ontleed ek elke wedstryd met ’n spesiale program – van spelers se doen en late op die veld, tot die strafskoppe wat ons afgestaan het, duikslae gemaak en gemis, sowel as die sterk en swak punte van ons teenstanders en hul spelpatrone. Die data en die video gee ek dan vir die afrigters en ons ontleed dit dan gesamentlik.”

Hoewel sy speeldae verby is, bly Swarts deel van die sport waarvoor hy soveel passie het. Foto: Facebook.

Hoewel hy sy nuwe rol baie geniet, is daar tog dae dat hy sy eie rugbyspel mis. “Daar gaan nie ’n dag verby waar ek nie aan my eie sportdae dink nie, maar ek is bevoorreg om in ’n ander hoedanigheid steeds deel te wees van ’n sportsoort wat my baie na aan die hart lê. Ek voel deel van die aksie. Al is dit langs die veld.”

Die Valke speel tans in die eerste liga van die Curriebekerreeks en hoewel dit moeilik is om Nostradamus in die Suid-Afrikaanse rugby te speel, glo Swarts dat niks onmoontlik is nie.

“Daar sal egter na die rugbystrukture van Suid-Afrikaanse rugby gekyk moet word, veral wat die sogenaamde kleiner unies betref, want hulle beskik beslis oor die talent.”

Wie is die talentvolste spelers wat hy al afgerig het?

“Ek kan bepaald twee spelers uitsonder. Clinton Swart het vir die Griekwas en Cheetahs se Superrugbyspan uitgedraf en hy speel tans vir Jake White se Toyota Verblitz in Japan. Dan is iemand soos Donovan O’ Grady ’n baie gevaarlike skrumskakel wat vir Switserland se nasionale span speel.”

As daar een ding is wat die lewe vir Swarts geleer het, is dit om nooit op te hou droom nie. “My toekomsplanne is nie in my hande nie, maar ek sal bitter graag eendag by ’n groter unie betrokke wil wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Beau Schoeman ·

Gerhard, wat n inspirerende storie. Dit is mense soos jy wat my inspireer…mense soos jy wat vol positiewe energy uitstraal, geen verskonings maak nie en nogsteeds drome het vir die toekoms. Ek bid dat jy in die nabye toekoms jou drome sal verwesenlik, want jy verdien dit. Bly glo dat dinge vir jou sal gebeur. Bid daaroor en ek glo dat God vir jou op Sy tyd sal seën. Geniet en volhard op jou reis na sukses. Kia-Kaha (Staan sterk).

maryn ·

Gerhard is van jongs af al ‘n inspirasie en voorbeeld vir elkeen met wie sy pad al gekruis het! Hy het al so baie struikelblokke te bowe gekom en altyd met ‘n blymoedige gees! Ons is werklik bevoorreg om hierdie wonderlike familie te mag ken!

Johann Mills ·

Gerhard is my nefie. Sy ma is my suster. Ek sal nooit die dag vergeet toe sy suster Sarie (ook n kwadrupleeg) ons gebel het met die nuus dat Gerhard seergekry het en sy nek gebreek het in n rugby wedstryd nie. Hier waar ek nou sit en skryf is my oë weer vol trane soos baie keer in die verlede. Ek het hom nog leer swem onder die water toe hy jonger was en ook nie meer n pa gehad het nie.
Het vir hom n radio beheerde model vliegtuig gegee en n paar keer help vlieg na hy uit die hospitaal is. Hy het baie gesukkel omdat hy baie seer gekry het. Vandag sal dit beter gaan.
Weens sy wonderlike persoonlikheid het sy maats en ondersteuningstruktuur hom letterlik deur die skool en Universitet gedra. Ek glo liewe Jesus het die grootste deel gedoen. So het die jare verbygegaan en hy het nie stilgesit en in sak en as verval nie. Ek was een van die eerste persone wat saam met hom in sy eie wa gery het. Was nie eenkeer bang vir n blaps nie. Nie eers as hy agteruit gereverse het nie! Dit het hom letterlik en figuurlik vlerke gegee. Jy kon sy geestestoestand daagliks sien verander het sy ma vertel. Vandag is hy so n inspirasie vir almal naby hom of mense met dieselfde beperking. Dankie aan Maroela media dat julle aan hierdie jong man spasie afstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.