Die Wêreldbekerrugbytoernooi en Vlug 571

Dit was een van daardie vreemde oomblikke in rugby, in 1999 aan die vooraand van die Springbokke se Wêreldbekerwedstryd teen Uruguay in Glasgow.

Terwyl die media in groot getalle na die Bokke se nuuskonferensies gestroom het, was daar net drie van ons by Uruguay se enigste nuuskonferensie voor die Vrydagmiddag se wedstryd.

Aan die hooftafel was die 40-jarige Diego Ormaechea, die agtsteman en kaptein van Los Teros, oftewel die Kiewiete, wat ná die toets (sy 73ste) sou uittree.

As ek reg onthou, was daar ʼn veel jonger persoon, Andres Sanguinetti, wat die president van Uruguay se rugbyunie was, asook die afrigter en tolk, wie se Engels swakker as Ormaechea s’n was, wat nie eintlik Engels kon praat nie.

Nie een van ons het te veel van rugby in Uruguay geweet nie, maar waarvan ons almal deeglik bewus was, was die tragiese verhaal van 13 Oktober 1972 toe Vlug 571 van Uruguay se lugmag in die Andes-gebergte met die span van die Old Christians-rugbyklub aan boord, neergestort het.

Die span het vanselfsprekend nooit in Santiago in Chile uitgekom nie en die emosionele, rou en dieproerende verhaal van hoe 16 van die 45 passasiers wonderbaarlik vir 72 dae in die sneeu oorleef het, was vasgevang in ons geheue.

Dit was nou ons kans om Ormaechea (wat glo baie kennis daarvan gedra het), daaroor uit te vra, maar hy wou nie byt nie, dit was immers ʼn WB-toernooi.

Hy wou oor die Bokke praat, hy wou by ons meer van Joost van der Westhuizen en die ander Bokke weet. Hy wou gesels oor sy resiesperde in Montevideo.

Die Bokke het die onstuimige wedstryd, waarin Brendan Venter afgejaag is nadat hy ʼn teenstander op die grond gehark het, met 39-3 gewen.

Nog net een kans, het ons ná die tyd gedink. Ons wou vir Ormaechea vir oulaas oor Vlug 571 pols, maar hy wou weer nie daaroor praat nie, heeltemal tereg.

Hoekom nou weer Uruguay se rugbyspan?

Want dié passievolle klein rugbyland, eintlik steeds in sy amateurskoene, het die rugbywêreld (weer) verstom toe hy Kanada in die (eerste) en tweede kwalifiserende wedstryde vir 2019 se Wêreldbekertoernooi uitgestof het.

Die onbesonge Uruguay speel weer, net soos in 1999, 2003 en 2015, in 2019 in ʼn WB-toernooi.

Hopelik sal daar dié keer meer oor rugby en nie oor Vlug 571 gepraat word nie, want die Kiewiete verdien dit, al is daar slegs 28 rugbyklubs in Uruguay.

Hopelik sal dit ʼn les vir Suid-Afrika, en die ander groot, ryk rugbylande wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet de Jager ·

Pieter, Skitterende “onthou joernalistiek” Sulke gebeurtenisse word so maklik vergeet. Ek waardeer jou insette op Maroela BAIE!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.