Die wiel draai in rugby

Wanneer jy in ʼn glashuis woon, moet jy nie met klippe gooi nie, veral nie in rugby nie.

Dis hoekom die Stormers maar die houe op die ken moet vat nadat die Nieu-Seelandse skeidsregter, Mike Fraser, ʼn hele paar vreemde beslissings gemaak het in Saterdag se Superrugbywedstryd op Nuweland teen die Chiefs.

Gert Smal, die Westelike Provinsie se direkteur van rugby, is soos duisende Kapenaars briesend (veral omdat die Chiefs boonop gewen het) en het amptelik by Sanzaar, die beheerliggaam van Superrugby, oor Fraser gekla.

Maar intussen is Fraser aangestel om Saterdag se kragmeting met die Sharks en Chiefs op Kingspark te hanteer.

Ja, Sanzaar sal pa moet staan vir skeidsregters wat fouteer. Sanzaar sal ook moet nadink of dit gepas is dat ʼn Nieu-Seelandse skeidsregter optree wanneer die Kiwi-spanne, veral in Suid-Afrika, teen spanne uit Suid-Afrika speel.

Maar is die skoen ook nie aan die ander voet wanneer Jaco Peyper of Marius van der Westhuizen blaas wanneer ʼn Suid-Afrikaanse span teen die Nieu-Seelanders speel nie?

Wat van die talle kere dat die Stormers, en enige ander span, deur ʼn skeidsregter se beslissings bevoordeel is? Is daar toe ook gekla?

Ons wil tog sekerlik nie hê dat Australiese skeidsregters elke keer moet blaas wanneer ʼn Suid-Afrikaanse span teen die Nieu-Seelanders speel nie?

Elke span loop maar die een of ander tyd deur, hetsy op Nuweland, Loftus, Ellispark, Edenpark en in Australië.

Kry maar jou huis behoorlik in orde, soos Spanje dit nou op ʼn ander vlak teëgekom het nadat Wêreldrugby Dinsdag die mat onder die Spanjaarde, België en Roemenië uitgepluk het nadat hulle spelers in Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryde gebruik het wat nie verkiesbaar was nie.

Spanje is onlangs deur België geklop, wat beteken het dat Roemenië in die volgende WB-toernooi in Japan sou speel.

Spanje het gehoop dat die wedstryd (wat deur ʼn onbevoegde Roemeense skeidsregter hanteer is) oorgespeel sou word, maar Wêreldrugby het bevind dat die Spanjaarde, België en Roemenië gekroek het en dit het die deur vir Rusland oopgemaak.

Kom ons draai die horlosie 15 jaar terug, toe Spanje amptelik gekla het nadat Rusland drie Suid-Afrikaners, Bloues Volschenk, Tenk Hendriks en Werner Pieterse, in kwalifiserende WB-wedstryde gebruik het.

Rusland is destyds afgerig deur James Stoffberg, die oudkaptein en -afrigter van Wes-Transvaal, wat jare lank reeds een van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se uitvoerende bestuurslede is.

Die Russe het beweer dat die drie Suid-Afrikaners Russiese grootouers het, maar hulle kon nie enige verdere bewyse indien nie en is gediskwalifiseer en met Spanje vervang (wat ook nie kon kwalifiseer nie). Rusland is boonop met £75,000 (bykans R1,3 m.) beboet.

Nou het die wiel gedraai.

Rusland speel en die Spanjaarde kyk televisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

blou ·

Ons moet aanvaar. Rugby is baie vinnig besig om in die voetspore van WWE stoei te volg.
Die beplanning van wie moet wen word vooraf geneem en skeidsregters word dienooreenkomstig ingelig.
Belaglik? Nie as daar gekyk word na die ooglopende foute wat skeidsregters maak nie.
Toe die Kings begin het met Super Rugby is ‘n sprekende voorbeeld. Die Kings was met rasse skrede bevoordeel wanneer SA skeidsregters betrokke was.

Nie eens dit kon hulle help nie.

Kyk rugby en raak opgewonde maar onthou, dit is maar soos die WWE stoei

Danie ·

Man hou op kla en speel die sport die beste span het gewen en dis finiaal….

Lol ·

SA skeidsregters bevoordeel oorsese spanne vir witvoetjie soek. En Jaco Peyper bevoordeel almal wat teen die Stormers speel.

rollie ·

Ha, ha dis waar LOl. Die vorige skeidsregter wat absoluut anti-WP was, was ou Tappe Henning. Daar was ander ook maar die twee onder bespreking vat beslis die koek.

rollie ·

Stel neutrale skeidsregters aan, dis tog ‘n eenvoudige oplossing.

Johan ·

Dis maklik stel noordelike halfrond skeidsregters aan vir alle suiderlike halfrond wedstryde. En visa versa in die noordelike halfrond

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.