‘Diepte en kondisie hou sleutel tot Goue Beker’

pe polisieGroter diepte en beter kondisionering hou onder meer die sleutel tot sukses in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.

Dis twee van die vernaamste lesse wat die kwartfinalis, Port Elizabeth Polisie, vanjaar geleer het, het die klub se hulpafrigter, Marius van der Walt, aan Pale Toe! gesê.

Hoewel hy heel tevrede is met die span se vertoning in die reeks, meen hy die klub sal sy eerstespangroep moet vergroot en aan sy kondisionering aandag moet gee.

“Ons het ook geleer dat daar geen maklike wedstryde in hierdie reeks is nie en `n span elke wedstryddag op sy beste moet wees.”

Van der Walt sê die Bobbies is vanjaar (veral ook in die reeks) erg deur beserings gekortwiek.

“Polisie het heelwat van van sy sleutelspelers deur beserings verloor en dit het ons sleg beïnvloed omrede ons diepte onvoldoende was. Ons moes `n hele paar baie jong spelers gebruik, maar op die lang duur sal die klub daarby baat vind. Die jong spelers wat kans gegee is, het goeie ondervinding opgedoen wat `n pluspunt vir die toekoms is.”

Hy sonder Dwayne Kelly (veelsydige agterspeler) uit as die Bobbies se beste speler in die reeks om die Goue Beker. Sy bydrae spruit veral uit sy rustigheid en ervaring.

“Stephan Deyzel (haker) het reusewerk met sy ingooie by die lynstane en sy verdediging verrig. Hy het ook baie drieeë ná rolmaalbewegings gedruk. Hannes Huisamen (slot) was uitstekend in die lynstane en met die manier wat hy die bal gedra het. Eckard Jacobs (buitesenter) se ervaring en balverspreiding was uitstekend.

Opwindende jonges

Opwindende jong manne soos Kyle Scott (vleuel), Chris Zeelie (veelsydige voorspeler) en Jaco Pretorius (vleuel) het eweneens hul staal getoon.

Laasgenoemde is veral belangrik omdat `n hele paar van vanjaar se spelers gaan verhuis of ophou speel.

Van der Walt sê die klub beplan om aanstaande seisoen baie mededingend te wees en weer vir die Goue Beker in aanmerking te kom.

“Ten opsigte van 2017 is die fokus met die oog hierop nou vir eers om vir die plaaslike liga gereed te wees. Die klub is op die uitkyk vir nuwe aanwinste en harde werk op die oefenveld lê voor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Japie ·

Aangesien ons rugby in so ‘n gemors is, wat van meer dekking oor krieket. Glo baie mense sal dit verwelkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.