Diepte ‘lekker probleem’ vir Alberton

Rahul Maharaj van Alberton beur vorentoe teen Harlequins van Krugersdorp. (Foto: Verskaf)

Rahul Maharaj van Alberton beur vorentoe teen Harlequins van Krugersdorp. (Foto: Verskaf)

Alberton kan vanjaar op toenemende diepte staatmaak nadat hy die afgelope paar jaar in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks gesukkel het.

Die klub se hoofafrigter, Wayne Williams, sê daar is ʼn  klompie puik spelers by die klub en dit skep `n “lekker probleem”. Die vriendskaplike wedstryde bied hom die geleentheid om sy opsies te toets.

Rory Lategan, die klubbestuurder, laat weet die span wat Wanderers Saterdag op Alberton se veld aandurf, toon vyf veranderings van die een wat Harlequins van Krugersdorp twee weke gelede geklop het.

In die voorry sak Benna Lotter en Rahul Maharaj weerskante van die ervare haker Rudolf Theron (oor die 50 senior wedstryde), wat van steelkantflank af binnetoe skuif.

Op slot het die hardwerkende Jonathan Swart die reus Mfundo Funani as maat.

Die losvoorspelers is die sterk Jason Gradidge en twee lede van verlede jaar se Goue Leeus-amateurspan, Quinten du Plessis en Faf Beukes. Du Plessis is die medekaptein en Beukes bied nog ʼn keuse in die lynstane.

Donovan Putter behou sy plek as skrumskakel en Bryan Thysse skuif losskakel toe. Die twee het verlede jaar soms saam dié rolle vir die o.21-span vervul.

Rudolf Prinsloo en Theuns van der Merwe is die senterpaar, met laasgenoemde die medekaptein ná sy knap vertoning teen Quins.

Kevin Grobler en Jacque van Wyk moet ʼn fisieke benadering op die vleuels bring, en die blitsige jongeling Caltino Jones neem op heelagter oor.

Hilmar Deyce, Ryno Ferreria, Dries van der Merwe, Anro Steyn, Thorn Khumalo, Bennie Botes en André Lombaard vorm die aanslag van die bank af.

Die wedstryde begin 13:15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.