Dink mooi voordat spanname verander word

Jannes Kirsten in die kleure van die Exeter Chiefs. Foto: Twitter.

Die Exeter Chiefs-rugbyklub in Engeland het besluit om nie toe gee aan druk nie en die klub se logo, bestaande uit die kop van ʼn Indiaanse hoofman getooi in vere, te behou.

Maar as ʼn teken van samehorigheid is daar besluit om weg te doen met die gelukbringer, Big Chief, wat dus nie meer voor en tydens wedstryde op en af langs die kantlyn gaan hardloop om die toeskouers op te sweep nie.

Dis ʼn sensitiewe aangeleentheid, maar is daar nog ʼn plek vir die Zoeloe-krygers wat met hul spiese en assegaaie voor rugbytoetse in Suid-Afrika ook die plaaslike toeskouers moet opsweep?

Gaan lees maar die Engelse vertaling van Johnny Clegg se groot treffer: “Impi wo ‘nans’ impi iyeza
Obani bengathinta amabhubesi?” wat oor die luidsprekers bulder.

Dit handel oor oorlog, oor moord en doodslag, oor honderde soldate wat gesneuwel het.

Vroeër vanjaar het die Crusaders in Nieu-Seeland weggedoen met hul belaglike kruisvaarders wat in volle oorlogsgewaad op hul perde in Christchurch voor wedstryde rondgejaag het.

Die Washington Red Skins in Amerika het gevolg en ook weggedoen met hul logo en spannaam.

Ander voetbalspanne soos die Cleveland Indians, Kansas City Chiefs, die Atlanta Braves en Chicago Blackhawks-hokkiespan kan glo binnekort volg.

Jare gelede, toe rugby op amateurvlak bedryf is, het spanne bloot die name van die streek of provinsie gedra, soos Noord-, Oos- en Wes-Transvaal, die Westelike en Oostelike Provinsie, Grens en Natal.

Dit was die Mielieboere, Piesangboere, Rooi Duiwels, Ligbloues en nog altyd net Province.

Maar toe het die Cats, Lions, Cheetahs, Bulls, Sharks, Kings, Stormers, Valke, Pumas en Arende uit beroepsrugby gevolg.

Dit was die veiligste opsie en niks kwetsend nie, maar hou maar gerus kop wanneer name verander word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.