Dink weer oor wysheid van Cheetahs in Pro14

Dalk moet daar maar weer gedink word oor die wysheid of nie van Suid-Afrikaanse spanne wat aan Europese ligas deelneem.

Vroeëre waarskuwings dat die Cheetahs en die Kings se deelname aan die Europese Pro14-reeks ʼn eerstehandse uitstalvenster aan die oorsese klubs bied om spelers af te rokkel, blyk nie ongegrond te wees nie.

Die Cheetahs moes nou twee keer binne die afgelope drie weke bevestig dat hulle ʼn Springbok aan ʼn oorsese klub afstaan.

Eers was daar die Bok-senter en Cheetah-kaptein, Francois Venter, wat sy lot by die Worcester Warriors ingewerp het; nóú is daar die Bok-agsteman Uzair Cassiem wat hom by die Cheetahs se Pro14-teenstander die Scarlets, ʼn Walliese streekspan, aangesluit het.

Venter (sewe toetse) en Cassiem (agt) sal dus ook kragtens die huidige kiesbeleid van die SA Rugbyunie (Saru) nie langer vir die Bokke in aanmerking kom nie.

Nie dat lojaliteit aan die Cheetahs eintlik hul Bok-kanse sou verbeter nie. Pale Toe! het reeds uitgewys dat die tydgleuf van die Pro14-seisoen nie juis in potensiële Bok-kandidate se guns tel nie.

Daar is eweneens aangedui dat die voortgesette bestaan van die Kings en die Cheetahs die kans om die oorblywende Suid-Afrikaanse Superrugby-franchises te versterk – soos wat die onttrekking van die Western Force in Australië bereik het – grootliks gekelder het.

Om met dieselfde spelers in die Curriebekerreeks sowel as in die Pro14 te speel, soos die Cheetahs verlede jaar probeer doen het, kan op die lang duur nie deug nie. Die spelers se lywe sal dit nie hou nie.

Dit raak al hoe duideliker dat die Pro14-spelers in werklikheid oor die lang termyn vir die opheffing van Suid-Afrikaanse rugby verlore is.

Sal dit anders gesteld wees met die beloofde franchises aan Griekwas en die Pumas?

Die groot vraag is of die Suid-Afrikaanse rugbybase die moontlikheid laat vaar het om rugby plaaslik tot ʼn gesonde peil te herstel.

Toe Sanza(a)r en Superrugby destyds die lig gesien het, het die krag van Curriebekerrugby ʼn belangrike rol in die bepaling van Suid-Afrika se hap aan die TV-regtekoek gespeel.

In Australië het die stemme reeds begin opgaan dat Suid-Afrika se hap te groot vergeleke met sy bydrae is, en is daar selfs geagiteer dat Suid-Afrika uit die Superrugbyreeks gesit moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico ·

Afgesien van ‘n jaar of 3 het Suid Afrika nog niks bereik in “super” rugby nie. Dus niemand gaan hulle eintliok daar mis nie!

Johan van Asweging ·

Ek wens julle wil ophou om die Pro14 so sleg te probeer maak. Die honderde Suid Afrikaans spelers wat tans in Europa sit, is daar al vir jare, en het niks te make met die Pro14 wat nou ñ hand vol spelers optel. Ek wens al die SA spanne gaan Pro14 toe, dan kan ons dalk ñ trofee wen.

rollie ·

Ek sou steeds dink dat blootstelling aan ‘n oorsese kompetisie belangrik vir spelersontwikkeling in die Vrystaat is. Hulle is te swak om in Superrugby mee te ding so daar is nie eintlik ‘n ander opsie nie.

Nico K ·

Ek stem saam dat hulle nie ‘n ander opsie gehad het nie. Hulle sou al hulle borge verloor het en dan in elkgeval al hul spelers verloor het. En soos bo gesê gaan SA spelers in elkgeval in hul honderde oorsee. Niks met die feit dat hulle nou skielik raakgesien word nie. Waar word al die ander SA spelers raakgesien? Francois Venter gaan oorsee omdat hy duidelik nie Springbok gaan speel nie.

Barry Goddard ·

Die vraag is wat sou gebuer het as een van die ander “groot” unies se Superrugby spanne dalk verlede jaar in die laaste of tweede laaste plek op die punteleer geeindig het en hulle moes uit Superrugby val. Sou hulle op ‘n manier weer terug kon kom in Superrugby??? Daar is GEEN reelings in plek vir die Kings of die Cheetahs om op enige manier te veg vir ‘n plek of om weer daar te speel nie. Ons sukkel juis so met die Currie beker, so om die Unies te “dwing” om hulle spelers hier te hou vir die CB, laat die top vier spanne van die huidige CB reeks Superrugby speel in die volgende jaar. Ongelukkig sal die kleiner unies altyd die melkkoei vir die ryker, maar bankrot unies wees. Sterkte Cheetahs.

gerhard ·

Mooi gese Barry en die res is eenoog Springbok ondersteuners. Hulle maak my maag werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.