Dis amptelik: Cheetahs en Kings se Pro14-avontuur begin oor vyf weke

Die Cheetahs en die Southern Kings se nuwe rugby-avontuur is Dinsdag amptelik bevestig en hulle sal van 1 September af aan die Pro14 van Celtic Rugby deelneem.

Die twee spanne, wat vanjaar uit die Superrugbyreeks gesny is, sal Maandag weet wat hulle bepalings vir die kompetisie is. Dit sal ongetwyfeld die nuutjie van somerrugby vir Suid-Afrikaanse spanne behels.

Die nuus is in ’n nuusverklaring deur Celtic Rugby bekend gemaak waar verwys word na die  ‘langtermyn-strategiese ooreenkoms’ tussen dié liggaam en SA Rugby.

Hierdie sal die eerste kompetisie wees waar spanne van die twee halfronde teen mekaar in dieselfde reeks meeding. Die twee Suid-Afrikaanse spanne sluit aan by die huidige 12 klubs in Wallis, Ierland, Skotland en Italië. Hulle sal in 21 ligawedstryde speel voordat die reeks met die eindstryd op 26 Mei 2018 ten einde loop.

Dit is nie ʼn sommerso hierjy kompetisie nie. In die vorige seisoen het 270 toetsspelers in die kompetisie gespeel en ʼn verdere 25 het sedertdien hul buiging op toetsvlak gemaak. Nie minder nie as 27 van die Britse en Ierse leeus wat pas die reeks teen die All Blacks gedeel het, is van die Pro12(14) afkomstig.

Die twee Suid-Afrikaanse spanne sal in 21 ligawedstryde elk speel. Die voorste drie spanne in elke van die twee afdelings sal na die uitspeelfase vorder.

Elke afdeling sal uit sewe spanne bestaan en elke span sal ten minste een keer teen elke ander span te staan kom. Die Italiaanse, Skotse en Suid-Afrikaanse spanne sal ʼn addisionele wedstryd teen die ander spanne van hulle land speel, wat beteken dat die Cheetahs en die Kings drie keer sal kragte meet.

Die indeling in afdelings is só gedoen dat elke land ewe veel spanne in elke van die twee afdelings sal hê.

Die twee afdelings – 

Groep A
Munster (Ierland), Ospreys (Wallis), Glasgow (Skotland), Cardiff Blues (Wallis), Connacht (Ierland), Zebre (Italië), Cheetahs (Suid-Afrika).
Groep B
Scarlets (Wallis), Leinster (Ierland), Ulster (Ierland), Edinburg (Skotland), Benetton (Italië), Dragons (Wallis), Southern Kings (Suid-Afrika).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kiepie ·

Die som van die 21 wedstryde elk klop ook nie. As jy 1 keer teen elke span in jou groep speel (6 wedstryde) plus twee keer teen die ander span van jou land dan het jy 8 wedstryde gespeel. Waar kom die ander 13 wedstryde dan vandaan? Of mis ek iets?

Lionel ·

Die berig is baie deurmekaar. Op News 24 se sportblad word dit baie goed verduidelik.
Jy speel tuis en weg in jou eie afdeling en tuis of weg teen die ander afdeling. Dit kom op 19 wedstryde. Dan speel die Kings en Cheethas nog 2 wedstryde teen mekaar.
Die wedstryde stek tussen September en Mei.

Daarna is dit uitspeelwedstryde.

Cheetah ·

Al hoe dit vir my sin maak is as volg. (Kom ons vat Cheetahs as voorbeeld, Groep A)
Die Cheetahs speel een wedstryd teen elk van die ander spanne in hul eie groep, Groep A = 6 wedstryde.
Dan speel hul twee wedstryde teen elke span van die ander groep Groep B = 14 wedstryde.
Dit maak 20 wedstryde en dan ‘n addisionele wedstryd teen die ander spane van hul land (Kings) wat 21 wedstryde maak.

Jack Russl ·

Nie heeltemal nie Cheetah. Die Cheetahs is in groep A en moet tuis en weg teen die spanne in hulle groep speel, dus 12 wedstryde. Dan een, tuis of weg, teen die spanne in die ander groep, dis 7. Dit los hulle op 17, dan moet hulle 2 addisionele wedstryde speel teen die Kings.

Dus het die SA, Italië en Skotland spanne 3 “derbies” teen dieselfde span omdat hulle net 2 spanne in die liga het

Jack Russl ·

In jou eie afdeling word daar tuis en weg gespeel, dis 12 wedstryde. Dan speel jy een keer teen die ander groep tuis OF weg, dis nog 7. Daar word ook verseker dat daar tuis en weg wedstryde is tussen al die spanne van elke land. Dus gaan Munster bv die 7 wedstryde speel teen die ander groep en dan weer addisionele wedstryde speel tussen die 2 Ierse spanne in die ander groep. Aangesien SA, Italië en Skotland elk net 2 spanne in die kompetisie het, gaan hulle 3 keer teen mekaar moet speel om op te maak vir die addisionele wedstryd.

Muster speel dus tuis en weg teen Ospreys(A), Cardif(A), Connacht(A), Zebre(A), Glasgow(A), Cheetahs(A), Leinster(B) en Ulster(B) – dis 16 wedstryde. Dan tuis OF weg teen Scarlets, Edinburg, Bennetton, Dragons en Kings (almal B) – dis 5. Totaal van 21

Cheetahs speel tuis en weg teen Munster(A), Ospreys(A), Cardif(A), Connacht(A), Zebre(A), Glasgow(A) – dis 12 wedstryde. Dan tuis OF weg teen Leinster, Ulster, Scarlets, Edinburg, Benneton en Dragons (almal B) – dis 6. Dan speel hulle 3 wedstryde teen die Kings. Totaal van 21

Kiepie ·

Dankie Jack, nou verstaan ek. Maar ek kan sien waarom hierdie verduideliking nie in die berig sou inpas nie ;-) Net dankbaar ons Cheetah- en Kings-ondersteuners is nie vir die wolwe gegooi nie.

Pietman ·

Dit moes al lankal gebeur het dat ons spane in beide halfrondes speel. Dis meer geld en goeie blootstelling.

Windhoek Draught ·

Alles net om die Curriebeker se finale spyker in te slaan.

Charles ·

Voorspoed aan die Cheetas en Kings! Hopelik sal ons ander spanne hul voorbeeld volg en wegbreek van die eentonige stampkar rugby van New Zeeland an Australie. Die Noordelike halfrond spanne speel in elk geval ‘n meer aanskoulike rugby

Frans C ·

Dit is tog jammer dat spelers van beide spanne, die spanne verlaat het om by die WP en Sharks an te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.