Dis Bul teen Bul wanneer Noord teen Suid speel

‘n Vorige wedstryd tussen die Stormers en die Bulls op Loftus Versfeld (Foto: GB Jordaan)

Jare gelede, toe die Blou Bulle of Noord-Transvaal teen die Westelike Provinsie gespeel het, was die hoofopskrif voor die groot stryd byna altyd ʼn gegewe: Dis Noord teen Suid of Dis Bul teen Bul.

Daar word weke lank na dié tweestryd uitgesien en hoewel die Lions (Transvaal), Cheetahs (Vrystaat), Sharks (Natal), Griekwas en die Pumas al voorheen in die Bulls, Westelike Provinsie en Stormers se slaai gekrap het, bly dit die keur-tweestryd tussen die room van Suid-Afrikaanse rugby.

Hoe dan anders, want 23 spelers van die 43 spelers wat na Rassie Erasmus eerste Springbok-oefenkamp uitgenooi is, se tuiste is op Loftus Versfeld of in die Kaapstad-stadion.

Daar gaan weer vingeraflektweestryde op 2 April op Loftus Versfeld wees, dié tussen Kurt-Lee Arendse, Canaan Moodie, Johan Goosen, Embrose Papier en dalk ook Willie le Roux teen Damian Willemse, Ben Loader, Suleiman Hartzenberg, Leolin Zas, Manie Libbok asook Paul de Wet en Herschel Jantjies.

Wat van die swaargewigte soos Akker van der Merwe, Marcell Coetzee, Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortje en Cameron Hanekom teen Neethling Fouche, Andre-Hugo Venter, Ruben van Heerden, (dalk) Deon Fourie en Evan Roos?

In die ou dae het die tweestryde ook as nasionale proewe gedien, nuwe helde is gebore en weke lank is daar oor die tweestryd gepraat, gestry en dan ʼn hele paar enetjies met eish geskink terwyl ʼn tjoppie of twee oor die kole gegooi is.

Die spanne het in 1946 die eerste keer teen mekaar in die Curriebeker-eindstryd gespeel, toe Noord-Transvaal met 11-9 op Loftus Versfeld gewen het.

Daar was heldeverhale van Frik du Preez en Naas Botha, later ook dié van Morné Steyn, Fourie du Preez, Bryan Habana, Victor Matfield en Bakkies Botha.

Aan die WP se kant was daar onder meer HO de Villiers, Jannie Engelbrecht, John Gainsford en Morné, Carel en Willie du Plessis wat berge versit het.

Daar was hartseerhale van die Matie Con de Kock wat die bal misgeskop het, dit deur Johnny Lourens opgepik is wat die Curriebekerdeur vir die Bulle oopgemaak het.

Namate die Superrugbyreeks sy kloue in Suid-Afrikaanse rugby ingeslaan het en die Bulls en Stormers nou in die Verenigde Rugbykampioenskap (en Europese bekerreekse speel), het die tweestryd tussen Noord en Suid nooit afgewater nie.

In 23 wedstryde wat die Bulls en Stormers sedert 1998 teen mekaar gespeel het, was die Stormers 13 keer aan die wenkant en die Bulls nege keer, met een kragmeting gelykop.

Maar, wat geen goeie leesstof vir die Bulls-ondersteuners is nie, is die houvas wat die Stormers oor die Bulls het nadat hulle in die afgelope sewe wedstryde onoorwonne was.

Dit nogal ironies, want die Bulls is voor die Stormers op die VRK-puntelys, hulle het meer drieë (47 teenoor 29) gedruk en ook baie meer punte aangeteken en minder afgestaan.

Kan die Bulls die gety keer? Kan die Bulls die Stormers se houvas van sewe opeenvolgende oorwinnings omkeer?

Ek glo so, al was ek sewe keer in ʼn ry verkeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.