Dis D-dag vir Vrystaters, Blou Bulle, Griekwas

Vrydag en Saterdag is D-dag vir die Vrystaatse Cheetahs, die Blou Bulle en Griekwas in die reeks om die Curriebeker, wat skielik nuwe lewe gekry het.

Veral vir die Bulle en Griekwas is dit waarskynlik neusie verby as hulle op Kingspark en op Nuweland verloor.

ʼn Gedugte taak wag Vrydag op die Vrystaatse Cheetahs om te toon dat hul liggeraakte ondersteuners nie bloot in ontkenning leef oor die bond se vermoë om gelyktydig in die Pro14- en die Curriebekerreeks mee te ding (nie bloot te speel nie).

Of hulle dit teen die Pumas sal regkry, is dalk te veel gevra, maar die Vrystaters het die tuisveldvoordeel, en ʼn mens moet ook sien hoeveel sitvlakke die sitplekke van die Vrystaatstadion vul om hul spanne in die dubbeldoorprogram – die Pro14-span speel in die hoofwedstryd – aan te spoor.

Die Blou Bulle (tweede laaste) se taak teen die voorloper, die Sharks, is nie minder ontsagwekkend nie, maar hul afrigtingsbaas, John Mitchell, reken daar is vordering in Pretoria; en watter beter geleentheid het die span om hom reg te bewys as om teen die KwaZulu-Natallers te verras?

Gesonde verstand sal seker steeds die meeste Blou Bul-ondertsteuners daarvan weerhou om te veel geld op hul span se kans te verwed.

Griekwas is in die onbenydenswaardigste posisie van almal. Hy is die agteros en ʼn sege teen die Westelike Provinsie in Kaapstad lyk onwaarskynlik.

Dit het egter ook in 1970 teen Noord-Transvaal in Kimberley so gelyk – maar dit was darem ʼn heel ander storie.

Afskoptye –

Vrydag

15:00 Vrystaat teen Pumas, Vrystaatstadion, Bloemfontein.

Saterdag

15:00 Sharks teen Blou Bulle, Kingspark, Durban.

17:15 WP teen Griekwas, Nuweland, Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.