Dis dalk die Sharks se goue jaar

Kitch ChristieOp die regte tyd op die regte plek – en dis ook op rugby van toepassing. Neem nou maar die voorbeeld van oorlede Kitch Christie in die ongekende welslae van die destydse Transvaal asook  die Springbokspan.

Toe Christie in 1993 deur dr. Louis Luyt van Pretoria na Johannesburg gelok is, het hy dit `n “hospitaal-joppie” genoem. Dit was boonop sonder `n geskrewe kontrak.  Maar hy het dr. Luyt vertrou, by Transvaal en ook  by die Bokke.

Dit sal beslis nie meer vandag gebeur nie. Inteendeel, druis dit dan nie loodreg in met die bepalings van die Wet op Amptelike Diensvoorwaardes nie? Tog is daar `n lojaliteit gekweek wat oorgespoel het na die spelers toe.

Kyk, dit was nie net maanskyn en rose nie, want aan die vooraand van professionalisme was SA (en wêreldrugby) byna in twee kampe geskeur tussen die twee magnate Kerry Packer en Rupert Murdoch.

Maar Christie het hom nie daarmeer bemoei nie en dit aan ander beamptes oorgelaat om die regte besluite te neem.  Sy taak was om Transvaal (asook die Bokke van 1994 af) af te rig en wenrugby te laat speel.

Maar hy was Engels (ja, dit het `n rol gespeel) en as speler/breier by Harlequins was hy nou nie juis  iemand om oor  huis toe te skryf nie. Tog het sy rustige geaardheid, kennis van die spel en die bestuur van spelers soos `n vars briesie deur die span getrek.

Van sy besluite en spankeuses was ook nie altyd gewild nie. Die span was vol Blou Bulle en het soms voor wedstryde  by die Protea-hotel in Midrand byeengekom om pasta te eet, soos prof. Tim Noakes dit destyds nog aanbeveel het. Ja, in Midrand, omdat daar so baie Pretorianers in die Rooibonttrui was.

Christie was ook nie `n voorstander daarvan dat die spelers reeds Vrydagaande saamtrek nie. Bring eerder gehalte-tyd deur saam met die gesin tuis, was sy siening.

Hy het  ontsettend baie klem op fiksheid, dissepline en spangees gelê. Onthou, daar was `n paar karakter soos James Small en James Dalton in die span  … `n mens  hoef niks verder daaroor uit te brei nie.

Christie was nooit bang om persone van buite se kennis te gebruik nie: lyk maar na die Bokke se 1995-bestuurspan: Gysie Pienaar, Rudy Joubert, Jake White en Morné du Plessis. Soms was die Nieu-Seelander Dave Waterson `n pyn by die oefeninge, maar Christie het net die regte kennis versamel en ingeneem.

Spelers soos Hennie le Roux en Francois Pienaar se kennis is baie gebruik. Christie (of was dit soms  die spelers se idees?) was baie innoverend. Soms het die agterlyn in `n lang ry agter `n skrum stelling ingeneem.  Spelers is buite posisie gekies, en goud is ontdek met balvaardige spelers soos Gavin Johnson, wat as `n vlinder in Pretoria beskou is.

Sy vertoningslys spreek vanself: M-Net se aandreeks (as ek reg onhou, het die Nieu-Seelandse Maorispn en Samoa ook in die reeks gespeel), en toe binne `n seisoen is die Lionbeker,  Curriebeker en Nitebeker en Percy Frame-beker, omhoog gehou. Die Super10-trofee het ook in Ellispark se glaskas gepas toe Transvaal die Auckland Blues (propvol All All Blacks) gelooi het. En toe die heel grote: die Wêrelbeker  in 1995.

Christie is ná 14 agtereengvolgende toetsoorwinnings steeds die enigste Bok-breier met `n 100-persent-slaagsyfer, maar is weens sy gesondheid as Bok-afrigter vervang.

Sou hy die toets vandag deurstaan het? Ek weet nie so mooi nie, onegag sy skitterende rekord.

Dit bring my Frans Ludeke, Gary Gold, Johan Ackermann, Allister Coetzee en Naka Drotské en vanjaar se Super-reeks. Hulle is almal ervare afrigters met baie goeie ondersteuningspanne en rits Bokke om van te kies en te keur.

Wie gaan dit vanjaar maak? Ons almal weet dat Ludeke en die Bulls reeds Super-sukses geproe het en as die beseringspook nie te veel van die Jakarandastad hou nie, glo ek dis dalk weer sulke tyd.

Maar die buiteperd is Gary Gold en die Sharks. Net soos Kitch Christie kan hy’n vars briesie in Durban laat waai. Nuwe idees, nuwe spanpraatjies, innovering, drieë by die dosyne. As hy, net soos Christie destyds, op die regte plek op die regte tyd is, het die Sharks goud raakgeboor.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.