Dis die Jaguares in Poemas-truie

Toe die Argentynse Poemas Donderdagmiddag hul span bekend gemaak het wat die Bokke Saterdag in Port Elizabeth in die Rugbykampioenskap pak, kon dit netsowel die Jaguares-span in die Superreeks gewees het.

Maar soos die oud-Bokafrigter Jake White tereg opgemerk het toe hy oor die Bokke se rooi trui vir die volgende toets in Salta gekla het, is die Poemas ʼn ander gedierte wanneer die tradisionele wit en ligblou gestreepte trui in toetse gedra word.

Gaan kyk maar na die rou emosie wanneer die Argentynse volkslied voor Saterdag se toets gespeel word. Dis passie, die trane lê vlak, en soos die ou mense altyd gesê het, dis manne wat bereid is om vir hul land te sterf.

Die afrigter, Daniel Hourcarde, het vier veranderinge, een posisioneel, aan die span aangebring wat Georgië met 45-29 in hul onlangse toets geklop het.

Vir diegene wat omgee, Emiliano Boffeli keer terug as regtervleuel en Ramiro Moyano skuif anderkant toe met Matias Moroni op die bank.

Voorlangs vervang Tomas Lavini vir Matias Alenmano op slot, en die flank Pablo Matera speel in die plek van Rodrigo Baez.

Die Bokke het 21 van hul 24 toetse teen die Poemas gewen, maar die Poemas het twee van hul laaste vyf kragmetings gewen.

Wees dus gewaarsku!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.