Dis die klein dingetjies wat in ʼn Wêreldbeker-toernooi saak maak

Die spelers was behoorlik uitgerus en beseringsvry ‒ en dit was een van die Springbokke se grootste bondgenote in 2007 toe hulle die Wêreldbeker-toernooi gewen het.

Toe die afrigter Jake White, op aanbeveling van dr. Tim Noakes, destyds van sy spelers ruskans in toetswedstryde gegee het, is dit nie oral gunstig ontvang nie ‒ maar die Bokke het laaste gelag, want wie onthou nou ʼn verloorspan by ʼn Wêreldbeker-toernooi?

Spelers wat nie voos gespeel is nie, kan aanstaande jaar in Japan weer ʼn baie groot rol speel wanneer die 20 spanne mekaar van 20 September af tot en met die eindstryd op 2 November aandurf.

Dis hoekom dit baie belangrik sal wees om die spelers die volgende nege maande reg te bestuur, seker te maak dat hulle nie oorspeel word nie en duim vas te hou dat hulle beseringsvry bly.

Vanjaar is die eerste keer sedert 1987 toe die All Blacks die heel eerste toernooi gewen het, dat daar ses tot agt spanne is wat kan wen.

Op die veld is die deelnemers se krag verdeeld en dus gaan die klein dingetjies saak maak.

Die All Blacks sal altyd een van die gunstelinge wees; Ierland tree al hoe sterker na vore; die oud-Walliese skrumskakel Gareth Edwards sê Wallis kan die wêreld skud; en die gewese Wallabies-vleuel David Campese glo Australië kan verras.

Die Springbokke was nog altyd mededingend in WB-toernooie. Hulle het immers reeds twee keer (in 1995 en 2007) die Webb Ellis-trofee omhoog gehou.

Só ook kan Engeland nooit afgeskryf word nie en die Franse bly een van die gevaarlike buiteperde.

Hulle het reeds drie keer (1987, 1999 en in 2001) in eindstryde gespeel, in 2003 en 2007 was hulle derde en in 1995 vierde.

Skotland, die Argentynse Poemas en Fidji is in staat om ʼn skok of twee in die groeprondes te lewer.

Wat lê voor?

Die Superreeks begin aanstaande jaar op 19 Februarie vir die Suid-Afrikaanse spanne wanneer die Bulls teen die Stormers speel. Die spanne sal 16 wedstryde voor die uitspeelrondes speel met die eindstryd wat op 6 Julie beslis word.

In ʼn Wêreldbeker-jaar is daar geen toere in Junie nie en ook ʼn verkorte Rugbykampioenskap.

Daar is genoeg tyd vir behoorlike ruskans. Maar sal Suid-Afrika se Superrugby-afrigters inkoop?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Ja, dis die klei dingetjies wat saak maak. Soos n binne senter met n aftrap, of wat weet hoe om n lyn reguit te maak en wanneer om dit te doen ten einde gapings aan die buitekant te skep. En belangrikste van alles, om die bal te versprei sodat die vleuels kan afrond! Maar nou ja, die vraag is, sal Erasmus die visie he om die regte binnesenter te kies of gaan hy voortploeter met die stampkar rugby?

The Boss ·

Interessante stelling dat die Franse in 2001 in die eindstryd gespeel het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.