Dis die nuweling Cheetahs teen die kampioen Scarlets

Dis Saterdag die verdedigende kampioen teen die nuweling wanneer die Cheetahs in die kwarteind van die Pro14 teen die Scarlets te staan kom.

Die wedstryd op die Parc y Scarlets, tuisveld van die Scarlets en die Llanelli Rugbyklub, behoort hardlooprugby soos min te lewer.

Die Cheetahs het in hulle eerste seisoen in die reeks baie vriende gemaak met hulle benadering waar die bal die werk moet doen. Net so is die Scarlets, hierdie keer op volle sterkte omdat dit ʼn uitspeelwedstryd is, bekend vir hulle hardloopbenadering.

Veral die Britse en Ierse Leeus se Leigh Halfpenny kan met sy aansluiting en dodelike skopwerk (kan die man hoegenaamd mis skop pale toe?) kan  ʼn doring in die Vrystaatse vlees wees.

♦  Vir vier van die Cheetahs se groep sal dit ook hul afskeid van Suid-Afrikaanse rugby beteken as hulle verloor. Clayton Blommetjies en Uzair Cassiem, wat albei uitstekend in die reeks was, sal vanaf die volgende Britse seisoen vir die einste Scarlets speel.

Dan gaan die afrigter Rory Duncan en sy kaptein, Francois Venter, ook albei Worcester Warriors toe.

Benewens die drie vertrekkende spelers sal die Springbok Johan Goosen en ʼn stewige, beweeglike pak ook hulle deeltjie bydra.

Slegte nuus vir die Cheetahs is die Scarlets se onoorwonne Pro14-rekord op hul tuisveld in hulle laaste 20 wedstryde. Nog ʼn probleem vir die Cheetahs is hulle gesukkel oorsee. Hulle het net ʼn skrale vier seges weg van Bloemfontein af behaal, waarvan twee teen die Kings was.

Die goeie nuus is dat die Scarlets van hulle laaste agt wedstryde net drie gewen het met een wat gelykop was en dat die Cheetahs, in hulle enigste kragmeting met die Scarlets – weliswaar in Bloemfontein – met 28-21 gewen het.

♦  Die tuisspan, in slegs hulle derde uitspeelwedstryd nóg in die kompetisie, behoort met die 15 000 toeskouers op die pawiljoen wat teenaan die veld sit, die ding te doen – maar voorspellings in uitspeelwedstryde is selde slim en dikwels verkeerd.

Spanne –

Scarlets
15 Leigh Halfpenny, 14 Tom Prydie, 13 Scott Williams, 12 Hadleigh Parkes, 11 Steffan Evans, 10 Rhys Patchell, 9 Gareth Davies, 8 John Barclay, 7 James Davies, 6 Tadhg Beirne, 5 Steven Cummins, 4 Lewis Rawlins, 3 Samson Lee, 2 Ken Owens (kapt.), 1 Rob Evans. Bank: 16 Elias Ryan, 17 Wyn Jones, 18 Werner Kruger, 19 Aaron Shingler, 20 Will Boyde, 21 Jonathan Evans, 22 Daniel Jones, 23 Steffan Hughes.
Cheetahs
15 Clayton Bommetjies, 14 William Small-Smith, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Niel Marais, 11 Rabs Maxwane, 10 Johan Goosen, 9 Tian Meyer, 8 Uzair Cassiem, 7 Teboho Mohoje, 6 Tier Schoeman, 5 Renier Bernardo, 4 Carl Wegner, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Ox Nché. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Charles Marais, 18 Tom Botha, 19 Daniel Hugo, 20 Henco Venter, 21 Mthokozisi Mkhabela, 22 Clinton Swart, 23 Lloyd Greeff.

Afskop: 19:35

Skeidsregter: George Clancy
Assistentskeidsregters: Frank Murphy, Mike Adamson
Televisieskeidregter: Olly Hodges

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

Alle voorspoed Cheetahs. Maroela rugby skrywers het julle al vroeg afgeskryf. Welgedaan ten spyte van al die negatiwiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.