‘Dis Eddie se skuld,’ skerm Borthwick

Die voormalige Engeland-kaptein, Steve Borthwick, is as die Rose se nuwe afrigter aangestel. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Steve Borthwick se eerste wedstryd as Engeland se hoofafrigter is skaars agter die blad of joernaliste trek reeds hul gifpenne nader.

Die Rose het die afgelope naweek teen Skotland op Twickenham vasgeval; ʼn toets wat ondersteuners van hul span verwag het om te wen.

Die 43-jarige oudkaptein het egter ná afloop van die wedstryd vir homself ʼn lat gepluk toe hy die skuld vir die nederlaag voor Eddie Jones se deur gelê het.

“Ek het vanuit die staanspoor gesê dat daar baie werk op ons wag. Ek het die span se vertonings in die herfsreeks saam met die beskikbare data ontleed en bevind dat ons doodeenvoudig nie goed genoeg was nie,” het Borthwick gesê.

Nou het ʼn Nieu-Seelandse joernalis na die nuwe Rose-breier gekap en gesê dat hy eerder hand in eie boesem moet steek voordat hy sulke opmerkings maak.

“Borthwick het ʼn paar vreemde dinge ná die toets gesê. ʼn Mens het waarskynlik nie van hom verwag om Engeland eensklaps weer op die wenpad te kry nie, maar om te sê dat die nederlaag nie sy skuld is nie, is darem maar te dik vir ʼn daalder. Goeiste, dit is nou jóú span en jóú spelers,” Jamie Wall vir ʼn Kiwi-nuusplatform gesê.

Nodeloos om te sê het die Aussie-pers ook bloed geruik. Jones was immers Engeland se afrigter voordat hy ʼn toppos by die Wallabies losgeslaan het.

Net vinnig ter agtergrond – die 62-jarige afrigter was trouens een van die beste Rose-breiers ooit. Sy wenpersentasie (73%) is die hoogste onder alle Rose-afrigters, terwyl hy drie keer die Sesnasies-silwerware saam met die span omhoog gehou het. Dan was daar die merkwaardige lopie van 18 onoorwonne wedstryde, terwyl die Engelsmanne ook onder sy toesig tot die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 gevorder het.

Tog skryf Georgina Robinson in die Sydney Morning Herald dat Borthwick waarskynlik met ʼn bietjie sielkundige oorlogvoering besig kan wees.

“Borthwick bestuur Engeland se Sesnasiesverwagtinge – hulle het immers net ʼn paar weke se voorbereidingstyd vir die toernooi gehad en hy het die nodige statistieke om sy bewerings te staaf. Deur sy mentor onder die bus te gooi, het hy die druk van sy spelers se skouers gehaal;  ʼn groep wat vier van hul laaste vyf toetse teen Skotland verloor het,” het Robinson geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Riaan ·

Jy het seker ‘n bladsy uit die ANC se boek geleen. Blameer almal behalwe jouself

Boksombende ·

Jy is geen leier as jy ander mense blameer nie. Bedank sommer onmiddelilk.

Boer ·

Daardie einste Edie gaan Engeland uit die wêreldbeker haal, dan wil ek sir Clive hoor moan!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.