Dis een van Saru se drome

Dit kan net ʼn hersenskim wees, of dalk is dit ʼn oomblik wat ʼn nuwe era vir Springbokrugby inlui …

Daar is bespiegelinge in Wallis dat ʼn toets tussen die Walliesers en Springbokke op 2 Junie in Washington DC beplan word.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is dit belaglik om ʼn toets teen die Rooi Drake in Amerika te speel net ʼn week voordat Engeland, die wêreld se naasbeste span,  in drie toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika te staan kom.

Maar toe word die liggie aangeskakel – want is dit nie deel van die Suid-Afrikaanse rugbybase se drome om twee Springbok-spanne te hê nie: een vir die Noordelike Halfrond en een vir die Suidelike Halfrond?

As die toets teen Wallis dalk ʼn werklikheid word, sal die span wat in Amerika speel,  dan uit Springbokke bestaan wat uitsluitlik in die Noordelike Halfrond speel.

Daar is genoeg van hulle. Baie van hulle is steeds baie gedug, sommige maar bra lank in die tand.

♦  Maar daar is ʼn magdom probleme.

Val die toets binne Wêreldrugby se toetsvenster? Indien nie, sal baie (die meeste) van die oorsese klubs nie van hul spelers wil vrystel nie.

Tweedens, wie sal die span kies en net vir ʼn week afrig? Gaan al die beste spelers hulle beskikbaar stel? En wat van die ondersteuningspan, bemarking, borgskappe?

Wat van die Cheetahs en Southern Kings se spelers wat in Europa in die Pro14-reeks speel?

As daar nie-Springbokke oorweeg word, soos Cheslin Kolbe, Jacques du Plessis, Paul Willemse, Wiaan Liebenberg, Jono Ross en Paul Jordaan, sal hulle  Bokkleure ontvang?

Maar kom ons kyk na van die Springbokke wat oorsee speel en dalk in aanmerking kan kom:

Heelagter: Willie le Roux (Wasps), Zane Kirchner (Dragons).

Vleuels: Bryan Habana (Toulon), JP Pietersen (Toulon), Gio Aplon.

Senters: Jan Serfontein, Frans Steyn (albei Montpellier), Juan de Jongh (Wasps), Wynand Olivier (Worcester Warriors).

Losskakels: Pat Lambie (Racing 92), Morné Steyn (Stade de Francais)

Skrumskakels: Cobus Reinach (Northampton Saints), Faf de Klerk (Wasps), Francois Hougaard (Worcester Warriors), Piet van Zyl (London Irish), Ruan Pienaar (Montpellier), Charl McLeod (Stade de Francais).

Losvoorspelers: Duane Vermeulen (Toulon), Jean Deysel (Ulster), Schalk Burger (Saracens), Francois Louw (Bath), Arno Botha (London Irish), Willem Alberts (Stade de Francais), Dewald Potgieter (Worcester Warriors).

Slotte: Flip van der Merwe (Clermont), Franco van der Merwe (London Irish), Juandré Kruger (Toulon).

Stutte: Vincent Koch (Saracens), Marcel der Merwe (Toulon),  Werner Kruger (Scarlets), Jannie du Plessis (Montpellier), Heinke van der Merwe (Stade de Francais), Lourens Adriaanse (Pau).

Hakers: Bismarck du Plessis (Montpellier), Schalk Brits (Saracens),  Ashley Johnson (Wasps).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chriskepties ·

Indien geen kwotavereistes ter sprake sou wees nie, sal ‘n Bokspan uit hierdie Noordelike halfrond groep die Suidelike halfrondgroep (met kwota-vereistes) nogal opdraend gee!

Niklaas ·

Daar is sowat drie Springbokspanne oorsee wat kan aantree. Heelwat ander puik spelers soos Groom en Catrakilis nie eers gemeld. Afhangend van spel plan en afrigter beleid kan hul maklik die vloer vee met huidige sukkel Bokke in RSA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.