Dis eintlik jammer toets word in Durban gespeel

Morné Steyn - 31 uit 31 in Durban. (Foto: GB Jordaan)

Morné Steyn – 31 uit 31 in Durban. (Foto: GB Jordaan)

Dis `n groot jammerte dat die Springbokke Saterdag op Kingspark in Durban en nie op Ellispark in Johannesburg teen die All Blacks speel nie.

Dis niks minder nie as reg dat die Sharks die toets aanbied, want `n toets teen die All Blacks laat die tuisunie se beursie bult.

Sedert 1976 het die Bokke en All Blacks mekaar reeds ses keer in Durban gepak en albei spanne was drie keer aan die wenkant. Die Bokke en die All Blacks het in 1976 die eerste keer in Durban gespeel toe die Bokke met 16-7 aan die wenkant was.

Dan was daar ook die berugte toets in Augustus 2002 waar Piet van Zyl (dis nou nie die Bokke se plaasvervanger-skrumskakel nie) die Ierse skeidsregter Dave McHugh platgeloop het. Die Bokke het dié dag 23-30 verloor.

Dis ook waar Morné Steyn in 2009 al 31 punte van die Bokke aangeteken het toe hulle die All Blacks 31-19 geklop het. Steyn het dié dag `n drie gedruk, met die doelskop geslaag en agt strafdoele oorgeklits. Dit is steeds ses punte beter as die 25 punte wat Carlos Spencer (die meeste deur `n Nieu-Seelandse speler) teen die Bokke aangeteken het.

Die All Blacks se teenvoeter vir vlugflouheid. (Foto: stuff.co.nz)

Die All Blacks se teenvoeter vir vlugflouheid. (Foto: stuff.co.nz)

Maar ná die All Blacks se toets Sondagoggend (SA tyd) teen die fisieke Poemas in Buenos Aires en `n vlug van 23 uur oor Brasilië na Suid-Afrika, kon die skaal na die Bokke se kant geswaai het as die toets op die Hoëveld gespeel is.

Dis hier waar die reeks in Junie vanjaar teen die Iere beklink is, toe die toerspan se longe in die tweede helfte begin brand het, toe die (Lions-) plaasvervangers opgestuur is en die tempo te vinnig vir die toerspan geraak het.

Die All Blacks, wat volgens stuff.co.nz onder meer spesiale maskers gebruik om die uitwerking van vlugflouheid die hoof te bied, geniet dit om in Durban (Umhlanga) te bly. Daar heers `n vakansie-atmosfeer, die geriewe is uitstekend en daar is nie elke oomblik ondersteuners wat jou vertel hoe daar maalvleis van jou gemaak sal word nie.

Ná Saterdag se oorwinning oor die Wallabies is dit redelik seker dat die Bokke met dieselfde patroon sal probeer om die All Blacks te tem.

Ja, dit het vrugte teen die Wallabies afgewerp, ja dis `n toets wat gewen moes word, maar as dit boonop Saterdag reën, sal die All Blacks ook gedy. Dink maar net terug wat vroeër vanjaar in Wellington in die eindstryd van die Superrugbyreeks tussen die Hurricanes en die Lions gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jonathan Butler ·

Die begrig beteken nou vir my niks nie, As die Bokkie wil wen teen die All Blacks meot hulle dit op enige veld doen met of sonder reen, Hopelik speel 15 Springbokke teen die All Blacks en nie net Morne Steyn weer nie

Derick Spies ·

Suid-Afrika en New Zealand het die 1ste keer op 30 Junie 1928 in Durban teen mekaar gespeel. Die Springbokke het 17-0 gewen. Daarna het hulle in 1949, 1976, 1996, 1998, 2002, 2007 en 2009 in Durban teen mekaar gespeel waarvan Suid Afrika 5 toetse teen 3 gewen het. Eerskomende Saterdag se toets sal die 9e tussen die 2 lande wees.

Gerbrandt ·

Al speel hulle so hoog bo seevlak soos die hemel sal hulle nie die All Blacks wen nie!! As hulle die All Blacks se bene aan mekaar vasbind sal hulle dalk gelykop speel. Net omdat die bokke Australie gewen het maak hulle nou glad nie weer n wenspan nie………………….kom ons hoop maar vir die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.