Dis hoe ek Anthony Foley sal onthou

Anthony Foley (Foto independent.ie)

Anthony Foley (Foto independent.ie)

Wanneer ʼn rugbyspeler se loopbaan kortgeknip word, is daar soveel onbeantwoorde vrae.

Toe die Goue Leeus se Springbokstut Julian Redelinghuys Saterdag in Bloemfontein weerloos op die veld lê terwyl die mediese beamptes hom behandel het vir ʼn ernstige nekbesering, het daar koue rillings deur my geflits.

Ek het weer die televisiebeelde van die Westelike Provinsie se heelagter, Chris Burger, se nekbesering wat hy in 1980 in die Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat opgedoen het, sien verbyflits. Daar waar hy op die vaalgrys veld gelê het terwyl die WP se spandokter, Augie Cohen, hom behandel het.

Burger het sy nek gebreek en is later in die hospitaal oorlede.

Ironies het die twee spanne ʼn minuut se stilte voor die wedstryd gehandhaaf ter ere van die Vrystaat se gewese Springbokstut Rampie Stander, wat drie dae vantevore op 35-jarige ouderdom na ʼn hartaanval oorlede is.

Dis hoekom dit ʼn skok was toe ek Sondag hoor dat een van die ysters van Ierse rugby Anthony Foley (42) oornag in die span se hotel in Parys oorlede is.

Foley, wat Munster se hoofafrigter was (onder Rassie Erasmus), het 62 toetse vir die Iere gespeel, was twee keer kaptein en het vier keer tussen 2000 en 2004 teen die Bokke uitgedraf.

Ek het hom in 2000 op Lansdowne Road in Dublin die eerste keer sien speel. Hy was die Iere se agsteman – hard, groot en vaardig en ʼn denker van die spel. Hy het net een pad geken, om oor sy teenstanders te stoomroller. Maar die Bokke het te veel skietgoed gehad en met 28-18 gewen.

Foley was in 2004 saam met die Ierse toerspan op toer in Suid-Afrika. Weer was hy in twee verloorspanne, in Bloemfontein toe die Bokke met  31-17 gewen het en op Nuweland, toe die Bokke met 26-17 weer aan die wenkant was.

Aan die einde van die jaar was hy vierkant in die Bokke se pad. Drie dae voor die toets het die Bok-afrigter, Jake White, sy kop in ʼn bynes gedruk toe hy gesê het dat net drie Iere goed genoeg sou wees om die Bok-span te haal.

Dit was nie nodig om die Iere op te sweep nie, White het dit namens hulle gedoen.

Boonop het die Nieu-Seelandse skeidsregter Paul Honiss, ʼn blaps begaan deur die Bok-kaptein, John Smit toe te laat om  met sy spelers te praat nadat hulle herhaaldelike oortredings begaan het. Die Ierse losskakel, Ronan O’Gara, het dit uitgebuit terwyl Smit nog besig was om met sy spelers te praat en onder hul oë ʼn drie gedruk wat toegelaat is.

Foley was dié dag soos ʼn gewonde buffel. Hy het gemaal , gedryf en verskeie Bokke meters ver teruggeduik. Ná die wedstryd, wat die Iere met 17-12 gewen het,  het hy nie daaroor gepraat nie, net gesê  ons moet saam met hom ʼn bier gaan drink.

Hard, genadeloos en sout van die aarde, wat ʼn pak op die ken kon vat …

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

chrisp ·

So tipies die Iere..(“ons moet saam ‘n bier gaan drink”)
Goeie mense, regtig jammer om te hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.