Dis hoekom die Crusaders so gewild is

Todd Blackadder (Foto: stuff.co.nz)

Todd Blackadder (Foto: stuff.co.nz)

Die Crusaders doen die dinge op die regte manier – dis hoekom dié franchise een van die suksesvolste in Nieu-Seelandse en Superrugby is – en seker ook hoekom so baie van ons vriende in die Kaap Crusaders-truie dra.

Die huidige afrigter, Todd Blackadder, het Dinsdag aangekondig dat hy die leisels ná die Super-seisoen in 2016 sal oorgee. Hy sal dan agt jaar in die saal wees ná hy in 2009 by Robbie Deans oorgeneem het.

Geen drama nie, geen afdanking nie, net ‘n aankondiging en die son kom more weer op.

Blackadder kon nie dieselfde hoogtes bereik het wat die Crusaders-afrigters voor hom behaal het nie. Voor hom het die Crusaders die titel sewe keer gewen, maar onder hom kon hulle in net twee eindstryde (in 2011 en 2014) speel, wat hulle albei verloor het.

Tog het die Crusaders in ses van die sewe jaar dat Blackadder agter die stuur was, tot die uitspeelrondes gevorder. Ek glo dat die aardbewing wat Christhurch, die provinsiale hoofstad van Canterbury in 2011 byna in puin gelê het, baie daartoe bygedra het.

Die stad het letterlik uit die as herrys en die ou Lancaster-park … daar waar Tiny Naude in 1965 die Bokke se wen-doelskop beklink het om die All Blacks met 19-16 te klop, kon om veiligheidsredes nie weer gebruik word nie.

Het ons ooit vir Blackadder of die kaptein, Richie McCaw, daaroor hoor kla? Het hulle die hasepad gekies? Het hulle dit as verskoning gebruik?

Blackadder, wat die All Blacks 24 keer (12 toetse) verteenwoordig het, was 14 keer kaptein. Hy was nie iemand wat baie gepraat het nie. Omdat hy maar stil van aard was, het ek soms gewonder of hy die regte man was om by Taine Randell oor te neem.

Maar hy was die sout van die aarde, die man wat nie bang was om moue op te rol nie en self in te spring nie. Hy was `n harde, maar skoon speler, en was byna nooit in enige omstrede voorval betrokke nie.

Vroeg in sy loopbaan kon jou nog met sy kop smokkel, soos die destydse afrigter John Hart dit met hom gedoen het. Daar was `n bietjie kommer oor Blackadder se peil en inklimspel en die jonger Blair Larsen het in sy nek geblaas.

“Doen my `n guns en skryf dat ek bekommerd oor Toddy (Blackadder) is, dat hy sy plek kan verloor en dat Blair in sy plek sal speel,” het Hart aan ons persmanne ná een van die All Black-oefeninge gesê.

Nou ja, dit het die gewenste uitwerking gehad, want Blackadder was soos ‘n gewonde leeu. Hy wou met niemand praat nie, hy wou Larsen net “regsien”. En dit het ook in die volgende oefening gebeur. Die vonk was terug, Blackadder het sy plek behou en Hart kon vir ons knipoog.

Die Crusaders sal volgende jaar uitgedun wees, want McCaw het uitgetree en drie van hul top-losskakels, Dan Carter, Colin Slade en Tom Taylor, speel nou oorsee.

Maar die voerband wat reeds so baie All Blacks uitgeskop het, sal weer op alle suiers loop … met of sonder Blackadder of McCaw-hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.