Dis hoekom die Engelse Rugbyunie kan skep

Dit word as die duurste rugbytoets in die geskiedenis beskou, wanneer Engeland die All Blacks op 10 November op Twickenham sal aandurf.

Die twee beste spanne in die rugbywêreld, wat mekaar vier jaar lank vrygespring het, sal die eerste keer sedert 8 November 2014 weer teen mekaar speel.

In die een hoek is die suksesvolle, stil oud-polisieman-afrigter van die All Blacks, Steve Hansen. In die ander hoek is die ewe suksesvolle, maar grootbek Aussie-breier van die Engelse, Eddie Jones, wat nie ʼn kans laat verbygaan om sy teenstanders en die media sleg te sê nie.

Nogal ironies, die All Blacks warm op 3 November teen Japan op en die Engelse speel dan teen die Bokke.

Dis hoekom die Engelse Rugbyunie (RFU) dit kan bekostig om astronomiese hoë kaartjieprsyse vir die All Black-toets te kan vasstel, want die vraag gaan die aanbod ver oorskry.

Die duurste kaartjie sal jou 195 pond, oftewel R3 220 uit die sak jag. Dink net daaraan, as jy met jou gesin van vier die toets wil bywoon, sal dit jou begroting met R12 880 laat kwyn. Wat nog van vervoerkoste, iets om te eet en te drink en ʼn ondersteunerstrui?

Maar toemaar, stel die RFU die ondersteuners gerus, net 10% van die kaartjies sal soveel kos. Kortliks, die RFU se beursie sal net uit die verkope van dié kaartjies met sowat R32 miljoen bult, wat nog van die ander 72 000 kaartjies?

Dis hoekom die Engelse dit kan bekostig om Georgië se pak voorspelers vandeesweek vir twee dae na Londen oor te vlieg vir ʼn skrum- en lynstaanoefening.

Volgens Jones is Georgië se voorspelers “die lelikste en afgryslikste” in wêreldrugby en net die regte doepa om die Engelse te slyp.

Ai, dit laat ʼn mens met die traan in die oog.

Waar was die dae toe almal teen die Bokke wou speel, toe Suid-Afrika die maatstaf was waaraan almal gemeet wou word.

Dis hoekom die rugbybase pa moet staan vir die agteruitgang van Springbokrugby, vir die aanstelling van afrigters wat daartoe gelei het dat die Bokke vyfde op die wêreldranglys is met Wallis en Skotland wat in hul nekke blaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Baie mooi gestel Pieter. Ek het self ‘n knop in my keel as ek terug dink toe die Springbokke dié maatstaf was waarteen alle spanne gemeet was! Maar daardie dae is lank reeds vergete.

Nou is ons ‘n grap, soos Boland hierbo tereg sê danksy “transformasie”!

Hopelik sal Rassie Erasmus ons weer terug kry op die pad.

Anoniem ·

Die top 10 spanne in die wêreld behoort ten minste 2 jaarliks teen mekaar te speel, anders maak dit ook van die ranglys ‘n klug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.