Dis hoekom Joost-hulle spanmaats aangesteek het

Joost van der Westhuizen – een van die inspireerders. (Foto: Twitter)

Hulle noem hulle die vegters van rugby, diegene wat hul lywe vir ʼn spanmaat op die spel plaas, met wie jy spreekwoordelik oorlog toe sal gaan.

Dink maar aan Joost van der Westhuizen, wat met ʼn gekraakte rib in die eindstryd van 1995 se Wêreldbeker-eindstryd gespeel het, André Joubert, wat ʼn beentjie in sy linkerhand gebreek het, maar in die WB-halfeindstryd teen die Franse en in die eindstryd teen die All Blacks met ʼn handstut gespeel het, Corné Krige en Jean de Villiers, wat met gekraakte ribbes in toetse gespeel het asook All Black-ysters soos Colin Meads, Wayne (Buck) Shelford en Richie McCaw.

Jare ná die 1995-eindstryd het ek aan Van der Westhuizen gevra hoe seer dit was. “Nee wat, net as ek die bal uitgegee het en toe ek Jonah Lomu getêkkel het,” (en dit was ʼn hele paar keer), het hy gesê.

Toe Uli Schmidt, wat destyds die Springbokke se spandokter was, aan Krige by die laaste oefening gevra of hy heeltemal seker is dat hy sou kan speel, was die Bok-kaptein se antwoord: “Dis net seer as ek lag of praat of kontak maak.”

Meads het in 1970 tydens die All Blacks se toer na Suid-Afrika sy linkerarm teen Oos-Transvaal gebreek (die All Blacks sweer tot vandag toe dat hy met opset geskop is) en hy is aangeraai om huis toe te gaan. Maar Meads het geweier en het met ʼn armstut in die vierde toets gespeel.

“Was dit seer,” is hy gevra. “Nie as jy vir die All Blacks speel nie,” het Meads geantwoord.

Shelford, verskoon die growwigheid van die besering, se skrotum is in 1986 in ʼn toets teen Frankryk oopgetrap en die wond is met verskeie steke geheg. Hy het voortgespeel, maar die steke het losgetorring. Maar Shelford het op die veld gebly om die veldslag te voltooi.

“Ek is uitgeslaan, het ʼn paar tande verloor en ʼn paar steke hier onder gekry. Ek kan nie die wedstryd onthou nie,” het Shelford ná die tyd aan die media gesê.

McCaw het aan die begin van 2011 ʼn beentjie in sy voet gebreek en ʼn skroef is ingesit, maar hy het die besering stil gehou.

Hy het sy voet in die kragmeting in die groeprondes van die WB-toernooi met Frankryk weer gebreek, maar het geweier om af te gaan, en voortgegaan om drie weke hierna die Webb Ellis-trofee hinkende-pinkende bo sy kop te lig.

♦ Die Crusaders-baljagterflank Matt Todd, is Donderdag onverwags in die span ingesluit vir Saterdag se Superrugbywedstryd teen die Hurricanes. Todd het sy duim twee weke gelede gebreek, maar hy het homself fiks verklaar en is by die span ingesluit.

Dis sulke dinge wat ʼn span lig, die res van sy spelers aanspoor en die span laat wen. Dis hoekom die Crusaders jare lank die beste span in die Superreeks is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wesley ·

Alhoewel ek glo in die hardheid van hierdie manne en hul aansporing tot ander spelers om harde rugby te gaan speel, dink ek dit hang af van wat die spandokter jou ook sal toelaat om te doen. Jy kan gil en skree jy wil bly op die veld, hardebaard wat jy nou is, maar die afrigtingspan sal jou vinnig afruk as jy jouself mal hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.