Dís hoekom rugbybase die wysheid van Salomo moet hê

Kyk net wie blaas …  vandag word ons al weer geboor.

Hoeveel keer het ons dit nie al gehoor nie, van skolevlak af, op universiteit-, klub- en provinsiale vlak, in Superrugby en ook wanneer die Bokke speel?

Jare gelede, toe my o.9-spannetjie op die veld gedraf het, het een van die pa’s van langs die kantlyn af gebrom: “Agge nee, kyk net wie blaas.”

“Ken jy hom?” het ek gevra. “Nee, al wat ek weet, is dat hy ons gaan boor.”

Ek is seker dat een van die teenstander-pa’s aan die ander kant van die veld dieselfde gesê het.

Maar het jy al ooit ʼn wenspan hoor kla?

Wanneer die Bokke speel en een van die Franse, soos Romain Poite word as skeidsregter aangestel, kry ons al sooibrand nog lank voor die toets.

Ons het ook nagmerries en angsaanvalle oor Peter Marshall, Wayne Erickson, Stuart Dickinson, Bryce Lawrence, Paul Honiss en Dave McHugh gekry.

Die All Blacks kla al vir 41 jaar dat Gert Bezuidenhout hulle in 1976 geboor het. Só ook die Britse Leeus van 1974.

Die All Blacks is steeds woedend vir Wayne Barnes ná die Wêreldbekertoernooi in 2009 toe die Franse (en Barnes) die Nieu-Seelanders getroef het, die Wallabies het nog nooit ʼn Kerskaartjie aan Steve Walsh gestuur nie (al het hy later na Australië verhuis) en die Skotte is nou nog vies vir Craig Joubert wat hulle glo in die vorige Wêreldbekertoernooi teen die Wallabies geboor het.

Die vet is nou behoorlik in Europa in die vuur nadat België Sondag vir Spanje met 18-10 in Brussel in ʼn kwalifiserende Wêreldbekerwedstryd geklop het.

Nadat Spanje verloor het, beteken dit dat Roemenië vir die WB gekwalifiseer het, en op die oog af is niks daarmee verkeerd nie.

Maar, Rugby Europa het die groot blaps begaan deur ʼn Roemeniër, Vlad Iordachescu, as skeidsregter aan te stel, hoewel die Spaanse Rugbyunie glo reeds op 19 Februarie daarteen gewaarsku het, want daar was botsende belange.

Die Spaanse spelers was briesend en het ná die wedstryd op Iordachescu afgestorm, ʼn paar houe geplant en hom rondgepluk, amper soos in 1974 toe Ian Gourlay die hasepad moes kies ná die kragmeting tussen die Britse Leeus en Gaselle.

Hoe gaan Wêreldrugby die probleem ontlont? Hulle sal teen Spanje móét optree, maar hoekom is ʼn Roemeen aangestel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cyril Blackburn ·

Dagsê Jaco
Ons vra om verskoning vir die growwe oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.