Dís hoekom rugbyspelers nie hulle susters wil soen nie

Een van ʼn rugbyspeler se grootste frustrasies is om gelykop te speel.

Toe die eindfluitjie Saterdag in Bloemfontein ná die toets in die Rugbykampioenskap blaas met die telling op 27-elk, het die Bokke en die Wallabies se skouers maar bra gehang, want daar was geen wenner nie.

Die Wallabysenter Kurtley Beale het nou ʼn pleidooi gelewer dat daar in toetse bykomende tyd gebruik moet word om die wenspan te bepaal, soos wat daar in die Wêreldbekertoernooi gebruik word – soos Joel Stransky se wenskepdoel in bykomende speeltyd van 1995 se WB-eindstryd tussen die Bokke en All Blacks, en soos Jonny Wilkinson se wenskepdoel in bykomende tyd in die 2003-eindstryd tussen Engeland en die Wallabies.

Speel tien minute ekstra aan ʼn kant, vra Beale, om ʼn wenner te bepaal.

♦  Ek weet nie waar en van wanneer af die uitdrukking “dis soos om jou suster te soen”  vandaan kom wanneer ʼn rugbywedstryd gelykop eindig nie. Die oud-Bokkaptein Morné du Plessis het dit altyd gebruik, só ook die Bok-afrigter Kitch Christie en Heyneke Mayer.

Só ook baie afrigters en spelers voor, én ná, hulle.

Daar word beweer dat dit die eerste keer in 1892 gebruik is en sedert 1918  van toepassing op drankies sonder alkohol. Dis ʼn baie gewilde uitdrukking in Amerikaanse voetbal en kom oral  voor in rugby.

♦  Rugbyspelers wil nie gelykop speel nie. Hulle wil wen.

Jare lank was die Curriebeker-eindstryd in 1971 tussen Transvaal en Noord-Transvaal op Ellispark ʼn groot besprekingspunt. Transvaal se ondersteuners het hoog en laag gesweer dat daar niks fout was met die drie deur die oud-Bokstut van Transvaal, Sakkie Sauerman, in die doodsnikke nie. Die doelskop van Jannie van Deventer het die telling 14-elk gelykop gemaak en die koeël was deur die kerk.

Net so het Noord-Transvaal se ondersteuners oor daardie drie gebrom, want die Curriebeker is gedeel.

Dit het nog drie keer in Curriebekereindstryde gebeur – in 1979 toe Noord-Transvaal en die WP met 15-elk gelykop gespeel het, en dit in 1989 (16-16) dit weer gedoen het; en toe weer in 2006, toe die Bulle en die Vrystaat met 28-elk gelykop gespeel het.

Daar was in dié wedstryd ekstra-speeltyd, maar steeds nie ʼn wenner nie…en toe word die beker maar gedeel, iets wat nie weer sal gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

met die gemors wat SA spanne opdis wil jy ons met NOG 20 minute straf? Is jy waansinnig? Hoekom soek jy ekstra tyd as jy dit NIE in 80 minute kon regkry nie? As julle minder skrums laat intuimel en die bal gouer ingooi by lynstane en minder sit en wag vir die waterbottel, dan sal julle meer speeltyd he waarin julle die wedstryd kan wen of verloor. En vir Brendan Venter, ons SA rugbykykers sal aanvaar as ons verloor wanneer JULLE “ghoeroes” die beste spelers kies, uitmuntende rugby opdis en dan nog steeds verloor. Maar hierdie spelers wat julle kies terwyl julle ordentlike stutte ignoreer, briljante vleuels en skrumskakels ignoreer en dan pateties speel en dan wil jy se ons moet ophou rugby kyk as ons net wil wen? Jy het duidelik die mentaliteit van ‘n swak afrigter!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.