Dis Kolisi teen Dupont in Kampioenebeker

Siya Kolisi in aksie vir Racing 92 in Frankryk. (Foto: X/Racing 92)

In Oktober 2023 het die Springbokke vir Frankryk in ʼn titaniese Wêreldbeker-kwarteindstryd met 29–28 geklop.

Nou is die twee kapteins van daardie uitklopskouspel in Parys – Siya Kolisi en Antoine Dupont – weer saam op die rugbyveld in aksie wanneer Racing 92 met Toulouse in ʼn Kampioenebeker-wedstryd kragte meet.

En as ʼn mens so na die riemtelegramme kyk, is die moontlikheid groot dat die Fransmanne se rugbytalisman weer op losskakel vir sy klubspan kan diens doen.

Dupont dra gewoonlik die nommernegetrui, maar Kolisi meen dat hy talentvol genoeg is om in enige posisie ʼn bedreiging te wees.

Daarbenewens kan sy nuutgevonde sewesvernuf ook vir ʼn bykomende aanvalspyl in sy koker sorg.

“Antoine is ʼn begaafde speler en hy het ʼn unieke benadering tot die spel. Ek dink hy is ongelooflik, ʼn eens-in-ʼn-leeftyd-speler, en jy moet gereed wees vir enigiets wanneer hy op die veld is,” het die Wêreldbeker-wenkaptein gesê.

Frankryk se Antoine Dupont. (Foto: X)

Volgens Kolisi, wat sy terugkeer ná ʼn handbesering maak, is hy opgewonde om teen Toulouse kragte te meet.

“Hulle is die maatstafspan van Franse rugby en ʼn klub met ʼn ryke geskiedenis. Die komende wedstryd is ʼn gulde geleentheid vir ons om te sien wat ons teen hulle kan doen.”

Die 32-jarige flank het ná die Bokke se Wêreldbeker-veldtog sy tasse vir Racing gepak en hy het Woensdag aanvaar dat sy internasionale kapteinskapdae dalk iets van die verlede kan wees omdat hy in die buiteland woon.

Hoewel sy kontrak hom toelaat om vir die Springbokke te speel, verkies afrigter Rassie Erasmus dat die nasionale kaptein sy rugby in Suid-Afrika speel.

Hy het egter vroeër aangedui dat hy nog bitter graag die Boktrui oor sy kop wil trek.

“Ek is nog beskikbaar om gekies te word. Niks gaan verander nie. Ek wil speel. Om die Springboktrui aan te trek is vir my die heel belangrikste; ongeag of ek kaptein is of nie.”

Intussen dra sy twee Wêreldbeker-wennersmedaljes sekerlik meer gewig as Dupont se vorige Kampioenebeker-sukses.

Die tweestryd tussen Racing 92 en Toulouse begin Sondag om 16:00 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Delia ·

Ek verstaan nie hoekom n speler wat nou vir n ander land speel, steeds vir SA kan gekies word. Gee die manne wat bly in SA dan die kans om n Springbok te word.

Manie ·

Kolisi speel klubrugby in Frankryk Delia, hy speel nie vir Frankryk nie.

George ·

@Delia, as ons so redeneer dan sou helfde van die Bok span nie bestaan het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.