Dis kort duskant oorlog Saterdag op Loftus

Loftus

Dis kort duskant oorlog Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria wanneer die topspanne in onteenseglik Suid-Afrika se strafste klubliga in ’n onverbiddelike uitklopstryd aanmekaar spring.

Die halfeindronde van die Blou Bulle-rugbyunie se Carlton A-liga is as ‘t ware ’n stryd van kampioene onderweg waarheen selfs die land se beste oop klub en die Goue Beker-houer, Rustenburg Impala, geweeg en te lig bevind is.

Selfs die eerste skote wat in die Curriebeker-reeks klap, sal beswaarlik soveel spanning bring as wat op die BBRU-hoofkwartier wag.

Wie geld op enige van die uitslae wil waag, het waarskynlik meer waagmoed (en geld) as verstand.

Die Varsitybeker-kampioen, die Tukkies, en die verdedigende Carltonkampioen, Centurion, spring eerste aanmekaar (15:00).

Elkeen was ’n keer bo in die rondomtalie, en dit nogal in die wegwedstryde: Tukkies met 30-25 en Centurion met 44-20.

In die ander halfeindstryd pak Quins-Bobbies-rugby (QBR), eerste op die punteleer en die Blou Bulle se verteenwoordiger in vanjaar se reeks om die Goue Beker, die Naka Bulle, die Noorderbonde se Assupol-kampioen (17:00).

QBR het albei rondomtaliebotsings gerieflik gewen (32-10 en 39-27), maar dit sal verras as hy Saterdag se wedstryd op ’n skinkbord kry.

Wat die tweede spanne betref, speel QBR teen die Tukkies, en Impala teen Naka; en tussen die derde spanne is dit Tukkies teen Naka, en QBR teen Centurion.

QBR, die Tukkies en Naka het elk drie spanne in aksie, Centurion twee en Impala een.

Die program –
Loftus B
13:00 QBR II teen Tukkies II
15:00 Tukkies teen Centurion
17:00 QBR teen Naka
Loftus C
13:00 Impala II teen Naka II
15:00 Tukkies III teen Naka III
17:00 QBR III teen Centurion III

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.