Dis Lions se beste kans om hul naam op die trofee te kry

Wag maar, die Lions het nog niks bereik nie, want hulle het nog nie vanjaar teen die Nieu-Seelandse spanne in die Superreeks gespeel nie.

Geldige kommentaar, want daar word mos gesê dat die Lions bo-aan die puntelys geëindig het omdat hulle in die veel makliker Afrika 2-afdeling saam met die Sharks, Jaguares en Southern Kings ingedeel was. Hulle het dan, afgesien van plaaslike derbies in hulle groep (waar hulle onoorwonne was) teen die ander Suid-Afrikaanse spanne en teen die powere Aussie-spanne en ook die Sunwolves en Jaguares gespeel …

Dit het verlede jaar met die Stormers gebeur toe húlle in die swakker afdeling teen bostaande spanne meegeding het en toe in die uitspeelrondes deur die Chiefs met 60-21 op Nuweland ontnugter is. Maar hoekom het hulle toe net 49 drieë gedruk teenoor die Lions se 71?

Is ons geheue só kort? Het ons vergeet dat die Lions verlede seisoen tweede op die algehele puntelys geëindig het nadat hulle met die Nieu-Seelandse spanne meegeding het?

Was dit nie dat Johan Ackermann besluit het om nie met die keurspan na Buenos Aires te reis om teen die Jaguares te speel nie, sou húlle, en nie die Hurricanes nie, bo-aan die puntelys gepryk het.

Het ons dan so gou van die Lions seges oor die Chiefs in Hamilton (36-32) en die vermorseling van die Blues in Auckland (43-5) vergeet? Wat dan van die oorwinnings oor die Highlanders (42-30) en die Crusaders (42-25) op Ellispark?

Het die Stormers die Lions verlede jaar of vanjaar geklop? Nee.

Kon die Bulls dit regkry? Nee.

Het die Sharks dit gedoen? Nee.

Wat van die Cheetahs en Kings? Ook nee.

Ek glo die Lions speel vanjaar met nog groter selfvertroue en die bestendige vertonings van Ross Cronjé op skrumskakel het baie hiermee te doen.

Die insluiting van tien Lions-Bokke (Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Elton Jantjies, Cronjé, Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Franco Mostert, Jaco Kriel en die kaptein Warren Whiteley) teen die Franse het sekerlik die vaardigheidsvlakke onder Brendan Venter en Franco Smith verder verhoog. Wat nog van SA A-spanspelers soos Ruan Combrinck, Harold Vorster, Andries Vermeulen, Faf de Klerk  en Ruan Ackermann?

En dan is daar die grootste bondgenoot: Ellispark.

Ja, moet nooit enige Nieu-Seelandse span onderskat nie, en moet nooit die vel verkoop voordat die beer geskiet is nie. Maar dit is die Lions se beste kans om hul naam saam met dié van die Bulls op die Supertrofee te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russl ·

Die Leeus het ook in die sterkste SA afdeling gespeek. Die ander spanne in die Stormers afdeling is in die laaste 3 plekke op die algehele SA groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.