Dis maak of breek vir spanne, spelers in laaste ronde

Die Maties se losskakel, Ernst Stapelberg, kan die gang van ‘n wedstryd in ‘n oogwink verander. (Foto: Liam Hamer Nel/Saspa)

Maandag se laaste ronde groepwedstryde is die Pukke se laaste kans om die halfeindronde te haal, ook die ‘eindstryd’ om die houtlepel en vir spelers wat die Varsitybeker-droomspan wil haal om die oog te vang.

Pukke se halfeindkanse hang aan draadjie

Niks anders as ʼn bonuspuntoorwinning sal vir die Pukke genoeg wees wanneer hulle in Potchefstroom teen Tuks te staan kom nie. Dit is wat hulle vir  plek in die halfeind benodig.

Tuks, wat reeds van ’n tuishalfeindplek verseker is, sal daarenteen wil seker maak hulle bly bo-aan die punteleer sodat hulle steeds ʼn kans op ʼn tuishalfeinstryd sal hê.

Die grondslag vir ’n oorwinning vir die manne van Noordwes sal voorlangs gelê moet word. Die lostrio van Marcell Henn, Marno Redelinghuys en Boela Venter, wat almal ervare is, sal eenvoudig balbesit vir hulle agterlyn moet verseker.

Sonder balbesit gaan hulle staan en koud kry en die Pukke se Varsitybeker-drome daarmee heen wees.

Die hartseernuus vir die Pukke is dat hulle gereelde kaptein Jeandré Rudolph nie van sy besering herstel het nie. Redelinghuys sal weer voordraf.

Agterlangs sal die onus op die losskakel Schalk Hugo rus om sy agterlyn weg te stuur. Vroeër die seisoen is daar baie gepraat oor manne soos die senter Elden Schoeman en die vleuels Lungela Gosa en Jimmy Mpailane se vaardighede met bal in die hand. Hulle sal hopelik die kans kry om hul talente ten toon te stal.

Die Potchefstromers sal ook bly wees dat Hugo met sy betroubare skopvoet, wat die twee laaste wedstryde misgeloop het, weer terug op die veld is.

Maar die Pretorianers het waarskynlik een van die gevaarlikste agterlyne in die kompetisie. Spelers soos hulle senters Impi Visser en Toko Maebane en die heelagter Divan Rossouw ken die pad doellyn toe.

Die Pukke het ʼn yslike taak.

Spanne –

Pukke: 15. Tapiwe Mafura, 14. Jimmy Mpailane, 13. Elden Schoeman, 12. Henko Marais, 11. Lungelo Gosa, 10. Schalk Hugo, 9. Chriswill September, 8. Marno Redelinghuys (kapt.), 7. Boela Venter, 6. Marcel Henn, 5. Walt Steenkamp, 4. Loftus Morrison, 3 . Morné Strydom, 2. Wilmar Arnoldi, 1. Matimu Mangany. Bank: 16. Dane van der Westhuizen, 17. Dewald Dekker, 18. Nico van Tonder, 19. Ruan Venter, 20. Gideon van der Merwe, 21. Caleb Louw, 22. Justin Newman, 23. Nkululeko Mcuma.

Tuks: 15. Divan Rossouw, 14. Dewald Naude, 13. Toko Maebane, 12. Impi Visser, 11. Sibahle Maxwane, 10. Tinus de Beer, 9. Rian Warner, 8. Clyde Davids, 7. Chris Massyn (kapt.), 6. Marco van Staden, 5. Aston Fortuin, 4. Brian Leitch, 3. Neethling Fouche, 2. Corniel Els, 1. Andrew Beerwinkel. Bank: 16. Jan-Henning Campher, 17. Jaco Holtzhausen, 18. Marius Verwey, 19. Eduan Lubbe, 20. Embrose Papier, 21. Manie Libbok, 22. Joshua Stander, 23. Franco van den Berg.

Afskop: 16:45 (Regstreeks op SuperSport.)

UJ moet wys hulle is ’n titelaanspraakmaker

Die Maties lyk vanjaar onstuitbaar. Hulle speel op die Danie Craven-stadion teen die UJ met albei spanne wat reeds verseker is van ’n plek in die halfeindronde.

Slaag die Johannesburgers egter daarin om die Stellenbossers met ’n bonuspunt te klop en hulle van ’n bonuspunt te weerhou, sal die UJ ’n tuishalfeindronde hê.

Dit is terselfdertyd ook ’n kleedrepetisie vir aanstaande week se halfeindronde wanneer dié twee spanne baie moontlik teen mekaar te staan sal kom.

Die UJ speel self vanjaar skitterende rugby. Met ’n oorwinning sal hulle wys dat hulle ernstige titelaanspraakmaker is.

Hulle agsteman, Jo-Hanco de Villiers, wat ’n kolos met die bal in die hand is, kan die Stellenbossers harde bene laat kou.

Maar, die Maties is ’n geoliede masjien met die kaptein en heelagter Craig Barry en die losskakel Ernst Stapelberg wat die gang van ’n wedstryd in ’n oogknip kan verander.

Spanne –

Maties: 15. Craig Barry (kapt.), 14. Kyle Steyn, 13. Michal Haznar, 12. Chris Smit, 11. Edwill van der Merwe, 10. Ernst Stapelberg, 9. Brendon Nell, 8. Devon Nash 7. Stephan Streicher, 6. Mitchell Carstens, 5. Johan Momsen, 4. Ian Groenwald, 3. JE van der Merwe, 2. Craig Corbett, 1. Niel Oelofse. Bank: 16. Hendrik Luus, 17. Wesley Adonis, 18. Wikus Groenewald, 19. Ruben de Villiers, 20. Saud Abrahams, 21. Paul de Wet, 22. Chris Smith, 23. Duncan Saal.

UJ: 15. Dean Brown, 14. Peter-John Walters, 13. Aphiwe Dyanti, 12. Jaco Fourie, 11. Godfrey Ramaboea, 10. Divan Nel, 9. Johan Esterhuizen, 8. Jo-Hanco de Villiers, 7. Len Massyn, 6. Gavin Delport, 5. Reinhard Nothnagel, 4. Kevin du Randt, 3. Nico du Plessis, 2. Johannes Snyman (kapt.), 1. Dylan Bakos. Bank: 16. Le Roux Baard, 17. Kyle Kruger, 18. Chergin Fillies, 19. Kyle van Dalen, 20. Devon Maré, 21. Ewan Adams, 22. Carlisle Jordaan, 23. Adrian Bester.

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport.)

‘Eindstryd’ om die houtlepel

Die Ixias sal ’n teleurstellende jaar waarin hulle nie een oorwinning kon behaal nie, op ’n hoogtepunt wil afsluit en die Madibaz ’n loesing te gee.

Die Madibaz, wat slegs een oorwinning vanjaar behaal het, sal die eerste keer vanjaar deur die senter Andile Jho aangevoer word.

Die verloorder in die kragmeting sal onderaan die punteleer eindig.

Albei spanne het met tye goeie rugby vanjaar opgedis, sonder om die grotes regtig skrik te maak.

Spanne –

Ixias: 15. Ruan Wasserman, 14. Masego Toolo, 13. Gert Cronjé, 12. Ruben Heymans (kapt.), 11. Koketso Moganeng, 10. Martin Jacobs, 9. Dean Jacobs, 8. Stephan Kruger, 7. Vincent Maruping, 6. Jean Smal, 5. Brendan Verster, 4. Pieter Venter, 3. Chrisjan du Toit, 2. Hendrik Smit, 1. Kabous van Schalkwyk. Bank: 16. Stefan Jacobs, 17. Kyle Ess, 18. Francois du Toit, 19. Kian Skippers, 20. Sylvestor Makakole, 21. Charl Hugo, 22. Olwethu Nkadisa 23. Denver Kleu.

Madibaz: 15. Lindelwe Zungu, 14. Ivan-John du Preez, 13. Thomas Kean, 12. Andile Jho (kapt.), 11. Athenkosi Mayinje, 10. Simon Bolze, 9. Rouche Nel, 8. Justin Hollis, 7. Wynand Grassmann, 6. Stephanus Nieuwoudt, 5. Gerrit Huisamen, 4. Reyno du Toit, 3. Nicolaas Oosthuizen, 2. JP Jamieson, 1. Xandre Vos. Bank: 16. Nathan Gogela, 17. James Beyl, 18. Nicolas Roebeck, 19. Hayden Tharratt, 20. Henry Brown, 21. Lovu Claassen, 22. Jixie Molapo, 23. Siphumelele Msutwana.

Afskop: 18:30

’n Oorwinning Maandagaand vir Wits teen die Ikeys op die Witsies se tuisveld kan hulle selfs nog in die vyfde plek op die punteleer laat klaarmaak.

Hoewel Wits na hulle naelskraapse neerlaag teen die UJ nie die halfeindronde kon haal nie, kan ’n vierde oorwinning vanjaar die kroon op ’n suksesvolle veldtog span.

Daarby sal spelers soos die agsteman Constant Beckerling, die slot Rhyno Herbst en die stut Luvuyo Pupuma vir oulaas die keurders se oog met ’n blink vertoning wil vang om in die Varsitybeker-droomspan opgeneem te word, wat aanstaande maand teen die Junior Springbokke te staan kom.

Die heelagter Gianni Lombard en die senter Wandisile Simelane, wat hulle in die Junior Springbokke se oefengroep bevind, sal self wil wys wat in hulle steek.

Spanne –

Wits: 15. Gianni Lombard, 14. Kwanele Ngema 13. Wandisile Simelane, 12. Tyrone Green, 11.Joshua Jarvis, 10. Warren Gilbert (kapt.), 9. Ruan Cloete, 8. Constant Beckerling, 7. Conor-Terrah Brocksmidt, 6. Ruan McDonald, 5. Rhyno Herbst, 4. Graham Logan, 3. Luvuyo Pupuma, 2. CJ Conradie, 1. CJ Greeff. Bank: 16. Justin Brandon, 17. Brandon Palmer, 18. Pascal Snyman, 19. Jethro de Lange, 20. Luxolo Ntsepe, 21. Brendan Hewitt, 22. Adriaan van Blerk, 23. Ameer Williams.

Ikeys: 15. Lohan Lubbe, 14. Rayno Mapoe, 13. Tristan Mouton, 12. Rico Lategan, 11. Joel Smith, 10. Rob Anderson, 9. Michael Henning 8. Nyasha Tarusenga, 7. Kuyenzeka Xaba, 6. Jason Klaasen (kapt.), 5. Gary Porter, 4. Duncan Saffy, 3. Michael Kumbirai, 2. Cuan Hablutzel, 1. Wayrin Losper. Bank: 16. Msizi Zondi 17. William Day, 18. Lee-Marvin Mazebuko, 19. Alva Sendryani, 20. Sanele Malwane, 21. Hilio de Abreu 22. Suwilanji Chibali, 23. Luke Stringer.

Afskop: 18:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.