Dis maak of breek vir Superrugby-uitspeelplekke

Wyatt Crockett – 200ste Superrugby-wedstryd (Foto Twitter @RugbyHeaven)

Dis die naweek ooplê na die uitspeel-wenpaal toe wanneer die Superrugby se voorlaaste ligaronde gespeel word.

Tog, in hierdie spansport, moet daar eers so ʼn bietjie stilgestaan word by ʼn buitengewone individuele prestasie.

Die Crusaders se stut Wyatt Crockett, 35, draf Vrydagoggend op sy tuisveld teen die Highlanders in sy 200ste Superrugby-wedstryd uit, die eerste man wat hierdie mylpaal behaal.

Crusaders se stadion is vir die aand na hom vernoem: Wyatt Crocket Stadium.

Crockett speel reeds 13 jaar Superrugby. Hy het ook in 71 toetse gespeel en het 380 eersterangse wedstryde agter die rug.

Daar word beraam dat die ou grote in meer as 3 500 skrums gesak het. Onthou, die stutte en die hakers absorbeer die gewig van twee pakke voorspelers wat saam byna twee (metrieke) ton weeg. Wat dit aan Crockett rug- en nekwerwels gedoen het, sal die tyd leer.

Crusaders is ná 14 wedstryde nog loshande voor. Hulle kom tuis te staan teen die Highlanders wat vierde van die Nieu-Seelandse spanne is en met twee wedstryde oor steeds in die uitspeelpermutasie is.

Die Highlanders het verlede naweek met 22-45 groot pak teen die Chiefs gekry. Hulle sal stukke beter moet speel as hulle selfs net ʼn verloor-bonuspunt teen die Crusaders wil kry. Elke ligapunt tel nou om tussen die voorste agt spanne vir die uitspeelfase te wees.

♦  Daar is letterlik in elk van die sewe wedstryde ʼn uitspeelplek vir ten minste een van die spanne op die spel.

Die Sharks móét, uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt, hul wedstryd mét ʼn bonuspunt teen die Stormers op Nuweland wen om hul geringe wiskundige aanspraak op ʼn uitspeelplek te kan behou.

Vir die Stormers is die uitspeeldroom natuurlik verby, maar Robbie Fleck se afrigtingspos en die Stormers se eer as span is op die spel.

Die Sharks het vanjaar net ʼn enkele wegwedstryd gewen. Hulle behoort nietemin, geoordeel aan verlede naweek se tweede helfte teen die Lions, op Nuweland te wen.

♦  Die Bulls het insgelyks niks behalwe hul eer om voor te speel nie. Hulle sal ook wil bewys dat hul goeie wegspring vanjaar in die toekoms meer as die agteruitgang in die laaste paar wedstryde beloof.

Hul opdrafspan is onveranderd van die een wat deur die Sunwolves geklop is. Die afrigter John Mitchell het weens beserings nie veel spelers buite hierdie klomp om die bloeding te probeer stopsit nie.

Teen die Jaguares gaan ʼn oorwinning vir die Bulls baie, baie moeilik wees. Vergeet van die Argentyne se gesukkel teen Wallis en Skotland toe hierdie selfde span as die Poemas drie keer vasgeval het.

Hulle het nou weer in Mario Ledesma ʼn afrigter waarin die spelers glo, en die Jaguares (tans met 38 ligapunte) sal met  ʼn oorwinning die voortou in die Suid-Afrikaanse afdeling neem. Die Lions (41 punte) wat ʼn wedstryd meer gespeel het, moet aanstaande naweek tuis nog teen die Bulls speel terwyl die Jaguares dan in Durban in die laaste Superrugby-ligawedstryd van 2018 met die Sharks kragte meet.

Die Bulls het in hul afgelope vier wedstryde 167 punte afgestaan en die tweede minste suksesvolle duikslae uitgevoer. Hul verdediging en ook hul dissipline sal dramaties moet verbeter as hulle die Jaguares wil klop en wat nou sewe wedstryde ná mekaar gewen het.

♦  In die ander wedstryde het die Brumbies seker darem aanvaar hul titelwedloop is op ʼn einde. Hulle kom in Waikato teen die Chiefs te staan wat die Highlanders verlede week deeglik pak gegee het.

Die Chiefs mik na tweede plek in die Nieu-Seelandse afdeling, maar met die Hurricanes wat tuis teen  die Blues speel, kan die Canes hul liga-voorsprong van drie punte bo die Chiefs behou.

Gebeur dit sal aanstaande naweek se uitslag tussen die Chiefs en die Hurricanes geen invloed op die uitspeel-kwalifiseerders hê nie.

♦  Die Waratahs (39 ligapunte) sal tuis hul rekord teen die Sunwolves en ook hul voorsprong in die Australiese afdeling maklik  behou; en die Rebels (35 ligapunte) behoort selfs in Brisbane ook nie te veel probleme teen die Reds te hê nie en in die uitspeelprentjie te bly. Hulle is tans agste.

Afskoptye (met wedstryde gespeel en ligapunte tussen hakies) ‒

Vrydag
09:35 ‒ Crusaders (14, 54) teen Highlanders (14,0)
11:45 ‒ Reds (14, 4) teen Melbourne Rebels (14, 35)

Saterdag
07:15 ‒ Chiefs (14, 41) teen Brumbies (14, 29)
09:35 ‒ Hurricanes (14, 45) teen Blues (14, 22)
11:45 ‒ Waratahs (14, 39) teen Sunwolves (14, 14)
15:05 ‒ Bulls (14, 25) teen Jaguares (14, 38)
17:15 ‒ Stormers (15, 25) teen Sharks (14, 32)

SA wedstryde se spanne ‒

Bulls teen Jaguares, Saterdag 15:05 op Loftus

Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Jamba Ulengo, 13 Jesse Kriel, 12 Johnny Kotze, 11 Divan Rossouw, 10 Handré Pollard (kaptein), 9 Embrose Papier, 8 Hanro Liebenberg, 7 Jannes Kirsten, 6 Marco van Staden, 5 RG Snyman, 4 Jason Jenkins, 3 Conraad van Vuuren, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman.
Bank: 16 Edgar Marutlulle, 17 Simphiwe Matanzima/Matthys Basson, 18 Mornay Smit, 19 Thembelani Bholi, 20 Nic de Jager, 21 Ivan van Zyl, 22 Manie Libbok, 23 Dries Swanepoel.
Jaguares
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Moroni, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolás Sánchez, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Javier Ortega Desio, 7 Tomas Lezana, 6 Pablo Matera (kaptein), 5 Matias Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustin Creevy, 1 Santiago Garcia Botta. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Javier Diaz, 18 Santiago Medrano, 19 Tomas Lavanini, 20 Marcos Kremer, 21 Martin Landajo, 22 Matias Orlando, 23 Sebastian Cancelliere.

Stormers teen Sharks, Saterdag 17:15 op Nuweland

Stormers
15 Dillyn Leyds, 14 JJ Engelbrecht, 13 EW Viljoen, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Jean-Luc du Plessis, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Pieter-Steph du Toit (kaptein), 6 Kobus van Dyk, 5 Jan de Klerk, 4 Cobus Wiese, 3 Frans Malherbe, 2 Bongi Mbonambi, 1 JC Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Steven Kitshoff, 18 Wilco Louw, 19 JD Schickerling, 20 Juarno Augustus, 21 Herschel Jantjies, 22 Josh Stander, 23 Craig Barry.
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jacques Vermeulen 6 Phillip van der Walt, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Juan Schoeman.
Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Beast Mtawarira, 18 John-Hubert Meyer, 19 Hyron Andrews, 20 Wian Vosloo, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Kobus van Wyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.