Dis maar weer ʼn Superrugby-tameletjie

Die deurmekaarspul in vanjaar se Superrugby duur voort.

Die Crusaders het Saterdag hul posisie in die eerste plek op die puntelys verstewig toe hulle die Highlanders met 26-23 geklop het.

Die Chiefs het Saterdag die Waratahs met 46-31 geklop, die Hurricanes het die Force met 34-12 verslaan en die Brumbies het die sukkelende Rebels met 32-3 oorrompel. Vrydag het die Blues met 34-29 teen die Reds gewen.

Die Crusaders (63 punte) is nou sewe punte voor die Lions (56) en dit begin al hoe meer lyk of hulle eerste op die puntelys sal eindig.

Die meeste spanne staan nou opsy vir toetsrugby en net een wedstryd word die komende naweek gespeel wanneer die Hurrricanes Vrydag die Chiefs pak.

Sommige spanne het nog drie wedstryde oor en ander net een. Van die spanne speel weer op 29 Junie, die Crusaders eers weer op 14 Julie.

Daar is verskeie permutasies. Wat beteken dit vir die topagt-spanne?

Soos sake nou staan, sien die algehele puntelys soos volg daaruit: Crusaders (63), Lions (56), Brumbies (33), Stormers (30), Hurricanes (53), Chiefs (49), Highlanders (46) en Sharks (42).

Die Brumbies, wat bo die Stormers ingeskuif het, en die Stormers se derde en vierde plekke is verskans omdat hulle afdeling-wenners is, al het hulle minder punte as die Hurricanes, Chiefs, Highlanders en Sharks.

In die kwarteindronde speel 1 tuis teen 8, 2 tuis teen 7, 3 tuis teen 6 en 4 tuis teen 5.

Crusaders: Hulle het net een wedstryd oor, eers oor vyf weke teen die Hurricanes. Wen die Crusaders, eindig hulle eerste.

Lions: Hulle moet nog teen die Sunwolves (Ellispark) en Sharks (Kingspark ) speel. As hulle albei wedstryde wen en die Crusaders verloor, eindig die Lions eerste.

Stormers: Hulle moet nog teen die Cheetahs (Bloemfontein), Sunwolves (Nuweland) en Bulls (Loftus Versfeld) speel.  Ongeag wat gebeur, sal die Stormers in die kwarteindronde op Nuweland speel, óf teen die Chiefs óf teen die Hurricanes. Maar dalk ook nog teen die Sharks.

Brumbies: Hulle moet nog teen die Reds (Brisbane) en Chiefs (Hamilton) speel. Hulle is ʼn kwarteindstryd in Canberra gewaarborg, al verloor hulle albei wedstryde. Dis waarskynlik die kwarteind waarop elke span hoop, omdat die Brumbies maar effe-effe is.

Hurricanes: Hulle het nog twee wedstryde oor, Vrydag teen die Chiefs en dan op 14 Julie teen die Crusaders.

Chiefs: Hulle moet nog teen die Hurricanes en Brumbies speel.

Highlanders: Hulle moet nog net teen die Reds speel.

Sharks: Hulle pak die Bulls op 30 Junie en die Lions op 15 Julie. Dit klink lagwekkend, maar as die Sharks een of  albei wedstryde verloor, eindig hulle agtste en speel hulle in die kwarteindronde teen die Lions en hoef hulle nie na Nieu-Seeland te reis nie. As hulle sesde eindig, speel hulle dalk teen die Stormers op Nuweland, wat minder punte as hulle kan hê.

Dit maak mos nie sin nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HENNIE NEUHOFF ·

Ag asseblief Pieter Kruger, waarom is dit nou weer ‘n tameletjie? Dis presies dieselfde as verlede jaar. Dit het ons geweet sal gebeur nog voordat een enkele wedstryd in hierdie jaar se kompetisie gespeel is. Dit mag dalk vir jou nuus wees, want jy hou aan met hierdie afgesaagde storie, dis een van die redes waarom die formaat van volgende jaar aangepas is. Verstaan dit tog nou vir eens en vir altyd, hierdie formaat is vir 2 jaar bepaal voordat hulle enige wysiging daaraan sou maak. Hoop regtig jy kry intussen iets wat nuuswaardig is en hou op om ons met hierdie “nuus”, wat almal weet, te vermaak.

pierre ·

Hennie ek stem 100% saam met jou. Lyk my hy verstaan regtig nie dat hy vashaak nie. Dit maak sin as jy voor die tyd presies geweet het hoe dit werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.