Dis maar weer sulke tyd vir die Kings

Glasgow Warriors: gespeel sewe, gewen sewe. Southern Kings: gespeel sewe, verloor sewe.

Daaruit kan jy aflei wat die uitslag van Vrydagaand se Pro14-wedstryd in Glasgow was. Ja, die Kings het Vrydagaand wel hulle agste drie na sewe wedstryde in die reeks gedruk, maar het ook nog sewe afgestaan waarvan die eerste presies 21 sekondes na die afskop gekom het.

Die Warriors se wentelling van 43-13, wat uiteraard ʼn bonuspunt insluit, hou hulle dus boaan afdeling A van die reeks met 33 uit ʼn moontlike 35 ligapunte in hulle sewe wedstryde.

Die Kings staan steeds op nul op die puntelys.

Die rustydtelling was 19-6 en die Oos-Kaapse span het wel in die eerste helfte benewens die vroeë drie en twee wat hulle net voor rustyd afgestaan het, redelik goed meegeding. Dit was ʼn wedstryd waar daar min struktuur van albei spanne was en die Kings se vermoë om drieë te druk verminder is deur die diep speel van hulle agterlyn.

Selfs met die mindere druk van die teenstanders wat dít tot gevolg het, was die aangeewerk te dikwels staan-staan en/of onsuiwer.

Maar volpunte vir verdediging. Die manne het werklik probeer. Die feit is dat die spelerskorps met enkele uitsondering nie op hierdie vlak hoort nie.

Puntemakers –

Glasgow Warriors
Drieë: Stuart Hogg, Niko Matawalu, Nick Grigg, Zander Fagerson, George Turner 2, Lewis Wynne. Doelskoppe: Adam Hastings 2, Ruaridh Jackson 2.
Southern Kings
Drie: Jacques Nel. Doelskop: Masixole Banda. Strafdoele: Banda 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.