Dis mos Jaco Taute soos van ouds!

Jaco Taute (Foto: Irish Rugby)

Jaco Taute (Foto: Irish Rugby)

Wanneer `n mens elke jaar in Margate vakansie hou, moet jy dit soms met die Wildtuin afwissel.

Dis ook wat in baie rugbyspelers se loopbane gebeur wanneer dit stagneer.

Jaco Taute se loopbaan was in `n amperse doodloopstraat by die Westelike Provinsie en nou is hy een van Munster in Ierland se groot uitblinkers.

`n Verandering van omgewing, `n ander afrigter, ander spanmaats en ander kos, taal en kultuur kan wondere verrig.

Taute het vroeg in sy loopbaan `n soortgelyke skuif van die Lions na die Kaap gemaak, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Daar het net `n skadu oorgebly van die uiterste talentvolle skoolseun van Monnas (die Hoërskool Monument in Krugersdorp), die Jong Bokkies (twee jaar), die Lions se Superrugby- en Curriebekerspanne en drie toetse vir die Bokke.

Ja, beserings het hul tol geëis, maar is hy reg in die Kaap bestuur? Wat het geword van sy systap en sy vermoë om die verdediging aan flarde te skeur?

Taute is in September deur die WP aan Munster geleen om vir `n paar maande sy loopbaan in Ierland voort te sit. Dit het gekom toe Munster in tamatiestraat was nadat twee van sy senters, die Nieu-Seelander Francis Saili en Sam Arnold, seergekry het.

Rassie Erasmus, Munster se direkteur van afrigting, pluk nou die vrugte en hy hoop hy om die Ierse Rugbyunie (seker ook die WP) te oortuig dat Taute moet aanbly.

Die Iere is baie broeis oor die ontwikkeling van hul eie talent. Dis hoekom Ruan Pienaar se kontrak by Ulster tot `n einde kom, want as hy aanbly, staan hy in die pad van `n jong Ierse skrumskakel se ontwikkeling.

Skietgoed vir Rassie

Maar Erasmus het die nodige skietgoed om die Iere te oortuig dat Taute waarde kan toevoeg, want onder hom ontwikkel die losskakel Tyler Bleyendaal en Arnold in toekomstige toetsspelers.

Bleyendaal, wat die Nieu-Seelandse o.20-span se kaptein was toe hulle in 2010 die Junior Wêreldtoernooi gewen het, kan in 2018 vir Ierland speel. Hou hierdie langbeen maar dop, want onder Erasmus (en met Taute langs hom) het sy loopbaan met rasse skrede verbeter.

Bleyendaal het juis by die Crusaders in Nieu-Seeland gewaai omdat Daniel Carter vierkant in sy pad was. Nou kry hy, net soos Taute, die kans om hul staal te toon.

Erasmus lag sekerlik lekker in sy mou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaybee ·

Jaco Taute se rugby by die WP het agteruit gegaan omdat die afrigting nie reg was nie. Die selfde wat nou by die Bokke gebeur. In albei gevalle is AC betrokke. Ongelukkig sal Rassie Erasmus nie belang stel om hier te kom afrig nie, daarvoor sorg die anc en saru met hul inmenging in sport.

Nico ·

Hier is nou die bewys dat AC ‘n kwota pateet is. Ek het heel seisoen gehammer daarop hie hy Taute en Jantjies afgebreek het. Jantjies het reggekom toe hy terug is na Lions maar die oomblik toe hy weer in AC se hande beland is hy weer terug by rommel states soos meeste van die spelers pnder hom.

jakkie ·

Jaco Taute moet gratis weggegee word. die wind kan net skuins waai , dan het hy n besering.

die rugby daai kant is maar baie swakker as die super 18.

AC kon ook hom nie coach want hy he n private kamer in die medi-clinic gehad. kry seer as hy gras sien.

Christo Visagie ·

Gaan kyk maar na die gevalle van Big Joe van Niekerk, Conrad Jantjies, Jaco Taute,,,,,,,,,,,,,,,,almal is weg WP toe en hulle spel het agteruit gegaan, Big Joe kan nie eers meer die Sprinbok span haal nie,,,,,,,,,,,,,,en toe is hy terug Lions toe en word weer Springbok. Jaco Taute gaan weer Blom onder ander afrigting,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Jacques ·

Almal hammer daarop dat die rugby daai kant swakker is. Maak oop julle oe my maat, ons, Australie en die All Blacks het het in 2016 teen daardie Nasionale spanne verloor!
Hoe is dit moontlik as hulle rugby dan van so ‘n lae gehalte is???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.